|

Plaasmoordsyfers styg wéér in 2016

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die landbou-unie TLU SA het vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion die 2016-syfers ten opsigte van plaasaanvalle en plaasmoorde bekend gemaak.

Dít volg nadat die burgerregte-organisasie in Mei vanjaar ’n geskiedkundige ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gesluit het waartydens lt.genl. Khomotso Phahlane, nasionale polisiekommissaris, aangekondig het dat die SAPD met AfriForum wil saamwerk om plaasaanvalle hok te slaan.

Die TLU SA en AfriForum se Navorsingsinstituut (ANI) se gemeenskaplike navorsing dui dat daar vanjaar tot einde November 334 plaasaanvalle en 70 plaasmoorde landwyd gepleeg is, ondanks ’n beduidende getal aanvalle wat weens polisieteenwoordigheid afgeweer is.

Spesifieke elemente wat ten opsigte van 2016-plaasaanvalle en -moorde ook tydens die konferensie onthul is, sluit in: die toename in uitermatige wreedheid van aanvalle; die gevalle van verkragting of poging tot verkragting wat tydens plaasaanvalle in 2016 aangemeld is; die tye en dae wanneer plaasmoorde gepleeg word; asook die voorsorgmaatreëls wat boere kan tref om meer paraat teen aanvallers te wees.

Genl. Chris van Zyl, assistenthoofbestuurder van TLU SA, het tydens die mediakonferensie sy kommer uitgespreek oor die voortslepende dreigemente rondom grondbesettings, die toename in die vergiftiging van vee asook die klaarblyklike gebruik van tegnologie om boere se alarmstelsels en selfone tydens aanvalle te onderdruk.

Volgens Van Zyl is daar ongetwyfeld ’n verband tussen die land se politieke klimaat en die hoeveelheid plaasmoorde wat gepleeg word. Hy is ook van mening dat misdaadintelligensie ’n prominente rol moet begin speel in die stryd teen plaasmoorde en -aanvalle.

Ondanks die toename in plaasmoorde is AfriForum optimisties oor die positiewe invloed wat hul samewerking met die polisie vanjaar vir die voorkoming van plaasmoorde kan beteken.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is AfriForum se kommer nie met die polisie nie, maar met ander staatsdepartemente. Hy meen die burgerregte-organisasie is bekommerd oor die land se politieke klimaatskepping wat dit nou populisties gemaak het om haat teenoor boere aan te moedig.

“Daar heers tans ’n klimaat in ons land waar dit gewild geword het om rassistiese en haatspraak-uitlatings teenoor wit mense te maak. Hoewel ons uiters versigtig is om afleidings te maak wanneer dit kom by plaasmoorde en -aanvalle, beskou ons hierdie moontlike neiging in ’n baie ernstige lig.”

Lorraine Claasen, misdaadanalis by ANI, het tydens die konferensie aangedui dat sy in haar analise van talle plaasaanvalle en -moorde sekere patrone kon identifiseer, onder meer dat plaasaanvallers toeslaan in groepe wat wissel van een tot soveel as 13 aanvallers per voorval en dat aanvalle ongetwyfeld haarfyn beplan word dat die boer spesifiek tydens ’n aanval geteiken word en dikwels die eerste persoon is wat aangerand of vermoor word. Verskeie ander neigings wat deur Claasen waargeneem is, word meer breedvoerig in die verslag vervat.

AfriForum het ook tydens die mediakonferensie inligting oor hul planne vir 2017 bekend gemaak, waartydens die burgerregte-organisasie en TLU SA onderskeie veldtogte sal loods en stappe sal neem om plaasmoorde en -aanvalle te beveg.

AfriForum gaan onder meer ’n boek oor plaasmoorde bekend stel en ’n landwye plaasmoord-bewusmakingstoer aanbied waartydens gemeenskappe oor voorkomende stappe toegespreek gaan word en steun gewerf sal word vir die prioritisering van plaasmoorde.

Die burgerregte-organisasie gaan ook ’n eenheid teen rassisme en haatspraak open, wat toegespits sal wees op sake van haatspraak en aanhitsing tot geweld, veral op sosiale media.

Soortgelyke plasings