|

Sowat 2 000 liter verf gebruik om paaie veiliger te maak

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog, wat aan die begin van Oktober van stapel gestuur is, gaan vandeesweek verder in Coligny, Heilbron, Tzaneen, Bethal, Sasolburg, Vryburg en dele van Pretoria-Oos uitgerol word.

Tydens die tweede week van dié veldtog is meer as 8 000 km afgelê om 199 stoptekens te plant en sowat 2000 liter verf is gebruik om meer as 12 000 meter se strepe op paaie landwyd te verf.

AfriForum het ook 100 stoptekens aan die Modimolle plaaslike munisipaliteit geskenk. Dit is met die hulp van munisipale werkers geplant nadat Marlene van Staden, nuutverkose burgemeester van dié plaaslike munisipaliteit, die burgerregte-organisasie genader het om ʼn plan van samewerking te beraam vir dié munisipaliteit se swak padinfrastruktuur.

Die burgerregte-organisasie gaan gedurende die Maand van Selfstandigheid sowat R2 miljoen aan die munisipale padinfrastruktuur van dorpe bestee waar daar aktiewe AfriForum-takke is.

“Dit is bevrydend om te weet dat ons toekoms nie in die hande van die Zuma-regering is nie, maar in ons eie selfdoenhande,” meen Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die projek word vandeesmaand nasionaal na verskeie ander dorpe uitgebrei.

As jou dorp nog nie besoek is nie, SMS jou dorp se naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings