|

Standerton-tak en Lekwa Clean Up Crew ruim dorp saam op

AfriForum se Standerton-tak het gedurende Junie in samewerking met Lekwa Clean Up Crew verskeie skoonmaakprojekte aangepak.

Daar is eerste op die Bethal-Morgenzon-pad (R39) voor die Junxion-winkelsentrum se ingang gefokus. Lede van Lekwa Clean Up Crew het die duikweg skoongemaak, asook slaggate met doleriet opgevul. Dié pad is bekend vir gevaarlike slaggate waarvoor motoriste noodgedwonge moet uitswaai. Aangesien die duikweg jare gelede laas skoongemaak is, is groot hoeveelhede grond verwyder.

Verder is die gras oorkant hierdie winkelsentrum in Beyers Naudéstraat gesny, terwyl die omliggende omgewing ook opgeruim is.

“Hierdie area is een van die hoofingange na ons dorp en daarom het ons besluit om op hierdie area te fokus en dit skoon te maak. Ons dorp is tans baie vuil en in ’n slegte toestand, maar ons sal aanhou werskaf en ’n verskil maak,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Die skoonmaakprojek is by die Voetsporemonument afgesluit. Die tak versorg al ’n geruime tyd dié monument deur gereeld die gras te sny en die omliggende area skoon te maak sodat dit veilig is vir die publiek om die monument te besoek.

Wys jou steun vir AfriForum se Standerton-tak: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings