|

Potchefstroom se vullisterrein bobaas in AfriForum-oudit

AfriForum se Potchefstroom-tak is verlede Woensdag aangenaam verras nadat die dorp se vullisterrein selfs nog beter as die vorige jaar gevaar het. Dié vullisterrrein se punte het van 15% in 2020, 48% in 2021 en ’n uitstekende 82% in 2022 die jaar na 94% verbeter.

Die drastiese verbetering kan toegeskryf word aan die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit wat van die onbevoegde kontrakteur ontslae geraak het. Vir meer as twee jaar word daar reeds van ’n plaaslike kontrakteur gebruik gemaak, wat hom daarop toespits om die vullisterrein in ’n puik, werkende toestand te hou. Hierdie prestasie getuig van die maatskappy se trots op hul werk en op Potchefstroom.

“Uit die 13 vullisterreine in die Noordwes en die Vrystaat wat ek oudit, is Potchefstroom se vullisterrein ’n ligpunt. Ek is dankbaar dat die J.B. Marks Munisipaliteit die regte ding gedoen het en die regte kontrakteur vir die werk aangestel het en daarom kon David Thibedi van J.B. Marks ons met trots op die vullisterreinoudit vergesel. Die lekkerste vir my is om die terreinbestuurder van die kontrakteurs, wat ons vergesel en verduidelik het, dop te hou en te sien hoe trots hy op sy werk is. Dit is opmerklik dat daar ’n goeie gees tussen die werkers op die terrein is en dat elkeen sy werk met trots doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by die Potchefstroom-tak betrokke en help om jou omgewing te verbeter. Kontak Alta Pretorius by 081 392 2071 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings