|

Tyd sal leer wat Trump-oorwinning vir SA beteken

“Nou is die tyd vir alle Republikeine, Demokrate en Onafhanklikes om te verenig. Ek wil ʼn president vir álle Amerikaners wees.”

Só het die miljardêr-sakeman, Donald Trump, gereageer nadat hy vandag as die VSA se 45ste president verkies is. Hy het sy oorwinning verseker deur 288 van die 538 stemme uit die kieskollege te verower.

“Ons soek gemeenskaplike belange en nie vyandigheid nie. Ek het ʼn oproep van sekretaris Clinton gekry en sy het ons almal gelukgewens.”

Trump het gesê elke Amerikaner kan nou sy of haar potensiaal bereik. “Die vergete mense, mans en vroue van die land, sal nie meer vergete wees nie.”

Die aankondiging van Trump se oorwinning het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Die goudprys het oornag skerp gestyg, terwyl die olieprys gedaal het en die rand verswak het soos beleggers die voorspellings vir van vandag se uitslag dopgehou het.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen hoewel beide Clinton en Trump omstrede kandidate is, het Amerikaners se frustrasie met staatsentralisering en die politieke beweging grootliks tot Trump se oorwinning bygedra.

Die sakeregtewaghond AfriSake sê hoewel Trump die verkiesing gewen het, lê die harde werk nou voor.

Volgens Stefan Pieterse, woordvoerder van AfriSake, het die VSA Trump ondersteun omdat hy die status quo uitdaag. “Daar is ʼn wêreldwye tendens om weg te beweeg van die status quo en nuwe oplossing vir hedendaagse probleme te vind. Die wêreld soek leiers wat nie net standpunte akkommodeer nie, maar ook inneem en optree.”

Volgens Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van dié sakeregtewaghond, is Trump se grootste uitdaging om Clinton se ondersteuners te kry om sy voorgestelde beleide en planne vir Amerika se toekoms te ondersteun.

“Trump moet besef dat om ʼn land te regeer en ʼn besigheid te bedryf, grootliks van mekaar verskil. Hy gaan sy strategie en aanslag teenoor mense in die openbaar, sowel as in die politiek moet wysig om uiting te gee om sy droom vir die Amerikaanse bevolking te bewerkstellig.”

Verskeie ekonome is van mening dat ʼn Clinton-oorwinning meer voordelig vir Suid-Afrika sou wees. Hul meen dat Clinton waarskynlik ʼn kompromie sou kon bereik rakende ʼn post-Agoa-handelsooreenkoms, terwyl Trump moontlik baie strenger gaan onderhandel om die proses te staak. Agoa is die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika.

Volgens Peter Fabricius, ontleder en voormalige koerantredakteur, is dit betwisbaar of Clinton se intervensionisme of Trump se isolasionisme tot groter globale konflik gaan lei.

Clinton het in haar tyd as staatsekretaris en deur die Clinton Stigting gereeld buitelandse hulp aan Afrikalande verleen. Fabricius meen Trump se isolasionistiese benadering kan beteken dat hy minder gretig sal wees om dieselfde hulp aan die buiteland te verleen.

Terwyl Clayson Monyela, woordvoerder van Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking, asook Wladimir Poetin van Rusland, Trump met sy oorwinning gelukgewens het, het ander bekendes hul teleurstelling op sosiale media gedeel.

Die sangeres Cher het Trump met die omstrede Adolf Hitler van Duitsland vergelyk.

Die ekonoom Mike Schussler het op sy Facebook-blad geskryf: “Terwyl Trump met ondersteuners na sy oorwinning gesels speel die Rolling Stones se ‘you can’t always get what you want’. Ironies?”

Herman Toerien, nuuskommentaarskrywer, meen dit is hopeloos voortydig om te voorspel hoe suksesvol Trump se presidentskap sal wees en hoe dit Suid-Afrika gaan raak.

“Die verwagting is dat die nuwe administrasie hom weinig aan Suid-Afrika gaan steur, tensy die Suid-Afrikaanse regering gaan skoor soek. As deel van Afrika, maar veral as deel van die wêreld sal Suid-Afrika ’n deeglike belang hê oor of die VSA ekonomies sterker gaan word en die wêreldekonomie saam gaan lig.”

Soortgelyke plasings