|

Van slaggate tot parkies: Só takel AfriForum probleme in Pretoria-Noord

AfriForum se Noord van die berg-buurtspan – ’n toegewyde span werkers wat deurlopend uiteenlopende opknappings en skoonmaakprojekte in Pretoria-Noord pak – het die afgelope maand wéér alles van slaggate tot parkies in dié gemeenskap gepak.

Die instandhouding van verskeie parke, insluitende Suurklapper-, Bokser- en Bokmakieriepark in onderskeidelik Ninapark, Hesteapark en Dorandia, is gedoen. As deel van dié projek is nagenoeg 2 000 swartsakke se vullis opgeruim, 92 vragte rommel is verwyder en 7 ha gras is gesny.

Daarbenewens het dié buurtspan ook 341 onwettige advertensies verwyder en as deel van AfriForum se nasionale #VulDieGat-projek sowat 1,1 ton teer ingespan om slaggate in dié gebied te herstel. AfriForum-takke landwyd het aan dié projek deelgeneem en ’n gesamentlike poging aangewend om slaggate ter waarde van minstens R1 miljoen te herstel. Dié teiken is oortref met meer as R1,5 miljoen se herstelwerk wat reeds gedoen is.

Noord van die berg-buurtspan het die afgelope maand boonop net-net meer as 1 330 km afgelê om toe te sien dat dié opruimings- en opknappingswerk gedoen kon word.

“AfriForum se Noord van die berg-buurtspan en -tak het die afgelope maand weer eens bewys dat hulle ’n belangrike en relevante rol speel in die gemeenskap. Die samewerking met die Tshwane-metro se spanne werp vrugte af wat tot die tasbare voordeel van inwoners in hierdie gemeenskap strek,” verduidelik Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Jy kan ook jou deel doen!

Raak vandag nog by AfriForum se Noord van die berg-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings