Verhoor van die SAOG-Tribunaalsaak geskeduleer vir 5 tot 7 Februarie 2018


Die lank uitgestelde verhoor van die saak teen Suid-Afrika se President Jacob Zuma en die Suid-Afrikaanse regering vir hulle rol in die sluiting van die plaaslike menseregtehof, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) Tribunaal, in 2012 is geskeduleer vir 5 tot 7 Februarie 2018. Dit sal by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gehou word. AfriForum verteenwoordig vier Zimbabwiese boere en twee Zimbabwiese landboumaatskappye in hierdie saak.
Die Regsvereniging van Suid-Afrika het in April 2015 aansoek gedoen om die optrede van president Zuma asook Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, en Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, ingevolge die 2014 SAOG-protokol ongrondwetlik te verklaar.
Onder die oorspronklike protokol wat in 2000 deur die SAOG-staatshoofde geteken is, kon individue en maatskappye ʼn saak teen ʼn lidstaat aanhangig maak. Die enigste bepaling was dat hulle eers alle beskikbare plaaslike middels moes uitput, of dat hulle dit nie kon regkry om deur nasionale howe voort te gaan nie. Tans beperk die protokol die SAOG-tribunaal se jurisdiksie tot dispute tussen lidlande en ontsê sodoende die 277 miljoen mense wat in die SAOG-streek woon toegang tot geregtigheid as die howe in hul eie lande versuim om regspraak te lewer.
In 2015 het vier onteiende kommersiële boere van Zimbabwe en twee Zimbabwiese landboumaatskappye aansoek gedoen om by die saak aan te sluit. Die burgerregtegroep AfriForum het hulle verteenwoordig. Hierdie boere is die reg in hul eie land ontsê deur beleide en maatreëls wat hulle van hul eiendomsreg ontneem het en wat nie hul menseregte – en dié van hul werkers – tydens onwettige en gewelddadige plaasinvalle kon handhaaf nie.
Al vier boere het suksesvol deelgeneem aan verskeie hofsake voor die SAOG-tribunaal en in al hierdie gevalle het die Tribunaal teen die Zimbabwiese regering beslis.
Ben Freeth wat Mugabe in 2007 saam met sy skoonpa, mnr. Mike Campbell, voor die SAOG-tribunaal in Windhoek, Namibië, gedaag het oor die onwettige verkryging van Campbell se Mount Carmel-plaas en dié belangrike hofsaak die volgende jaar gewen het, is een van die vier boere. Freeth is ook ʼn woordvoerder van die SAOG-tribunaal se menseregtewaghond.

“Ten spyte daarvan dat ons ons hofsake gewen het, het die sluiting van die Tribunaal in 2012 daartoe gelei dat ons nie die sake verder kon neem nie. Die volgende stap sou wees om geldelike vergoeding van die Zimbabwiese regering te kry vir hul flagrante minagting van daardie uitsprake,” sê Freeth.

Die 2014-protokol is uiteindelik deur 9 van die 15 lidlande onderskryf tydens die SAOG se spitsberaad vir staatshoofde wat in 2014 by die Victoria-waterval in Zimbabwe gehou is. Hierdie protokol kan egter slegs in werking tree as minstens 10 van die lidlande, wat twee-derdes verteenwoordig, dit bekragtig. Sedertdien het geen enkele lidstaat die protokol bekragtig nie.
Die Februarie-verhoor in Pretoria sal een van die belangrikste sake vir die regte van die SAOG-burgers wees en sal ook vir Suid-Afrika die geleentheid bied om sy voormalige hoë morele waardes te herwin. Versuim om dit te doen, sal baie negatief op pres. Zuma en sy regering reflekteer.

Soortgelyke plasings