Verligting vir Calvinia: Water en voer vir ’n gemeenskap in droogte


Die afgelope naweek is daar afgeskop met AfriForum se Calvinia-waterprojek met die aflewering van ongeveer 400 000 liter water, 300 bale voer en 100 sakke aartappels in dié droogtegeteisterde Noord-Kaapse dorp.
Gemeenskappe van regoor Suid-Afrika het die water geskenk wat daarna met 15 vragmotors op vyf verskillende roetes deur die land na Calvinia gestuur is.

“Op elke roete en op elke dorp waar ons aangedoen het, is meer water deur die betrokke gemeenskap geskenk as waarvoor daar oorspronklik bereken is. Die samewerking en betrokkenheid van gemeenskappe was só oorweldigend dat daar binnekort ’n volgende fase van hierdie projek sal realiseer,” vertel Hein Gonzales, projekkoördineerder van die Calvinia-waterprojek.

Tydens hierdie eerste fase van die projek het daar – benewens die 15 vragmotors wat die water na Calvinia vervoer het – ook tien konvooie vanuit vyf verskillende provinsies vertrek wat altesaam 9 727 kilometers afgelê en diesel ter waarde van R320 991 verbruik.
Gonzales noem dat dié dorp se damwatervlakke ondanks wydverspreide reën die afgelope paar maande en selfs buie wat die vorige week in Calvinia uitgesak het steeds nie van so ’n aard is dat dit in die dorp se waterbehoeftes kan voorsien nie – vandaar die besluit om hande te vat en water asook voer aan die gemeenskap te skenk.

“Die afskopfase was ’n reusesukses en die publiek kan seker wees dat die gemeenskap van Calvinia dit opreg waardeer,” benadruk Gonzales.

Organisasies wat by die projek betrokke is, is die Solidariteit Beweging in samewerking met AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, AfriForum Jeug, Caring Daisies, WSSA en Ctrack.

“Die sukses van hierdie projek bevestig weer die krag waaroor die gemeenskap beskik indien mense saamwerk, saamstaan en mekaar wil help. Dankie aan almal wat skenkings gemaak het. Julle is die krag agter die projek,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings