|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum en Saai het vandeesweek weer hande gevat met ’n gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek deur ’n skoffelploeg aan Gung’s Boerdry te skenk. Dié boerdery produseer brandrissies, eiervrug, ander groen groente en medisinale kruie op ’n 2,5 ha kleinhoewe by Zuurbekom aan die Wes-Rand.

Die burgerregteorganisasie het ook ’n skriftelike voorlegging ingedien oor die voorgestelde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak. Skriftelike kommentaar teen hierdie voorgestelde wetsontwerp is reeds in 2019 en 2021 ingedien en in 2022 is ’n mondelinge voorlegging voor die Portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste gedoen waarin die organisasie sy kommer oor die wetsontwerp uiteengesit het. Dié wetsontwerp is nou weer oop vir openbare kommentaar.

Op takvlak het die Groter Moot-tak in Pretoria voortgebou op hulle harde werk. Dié tak het in April 171 300 m2 se gras gesny en 52 geel sakke rommel weggery. Verskeie padtekens is geverf, ses verstopte stormwaterdreine is skoongemaak en altesaam 43 sakke teer van 25 kg elk is gebruik om slaggate op te vul.

Die Wes-Moot-tak het in samewerking met Proshield Sekuriteit ’n gesteelde voertuig voorgekeer nadat dié voertuig op die tak se LPR-kameras vasgevang is. Dié tak se buurtwag het ook verdagtes op heterdaad betrap wat toringkaste by ’n selfoontoring oopgebreek het en die battery en van die kabels gesteel het. Die verdagtes het egter in ’n wegkommotor gevlug. Die tak het ook gehelp om verskeie brande te blus.

Steeds in Pretoria het die Noord van die berg-tak se tuinspan in April 1 053 swartsakke vol vullis opgetel en 31 vragte vullis weggery. Dié tak ruim ook elke maand die Pretoria-Noord-stadsaal op, asook verskeie parke en strate in die gebied.

AfriForum Jeug se Kempton Park-tak het ’n groentetuin by die Môrester Kinder- en Jeugsorgsentrum in Birchleigh aangeplant. Dié groentetuin is aangeplant om met die tekort aan vars groente by die sentrum te help en spinasie, uie, blomkool, wortels, broccoli, sprietuie, tamaties en bone is geplant.

Die Williston-tak het beet, pampoen, aartappels, uie, wortels, appels, lemoene en sopbenodigdhede aan die Amandelhof Ouetehuis en die Emmanuel Tehuis Williston geskenk om die las by dié te huise te help verlig.

Soortgelyke plasings