|

AfriForum Jeug beloof om studente te beskerm

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons moet ophou toelaat dat ons kampusse politieke speelgronde word vir partye soos die EFF. Jongmense kan nie ’n toekoms hê as hulle nie veilig is nie.”

Só het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, vandag tydens die bekendstelling van ’n voorkomingsplan vir kampusse in Pretoria gesê.

Dié 10-punt plan bevat verskeie inisiatiewe om die regering en universiteitsowerhede te dwing om aandag aan die voorkoms van gewelddadige optogte op kampusse te gee. Dit is ook ingestel op die beveiliging van studente en hul eiendom (Sien plan elders).

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die plan is ontwikkel in reaksie op die onlangse geweldadige protesaksies en aanslae op Afrikaans by verskeie universiteite in die land.

Die optogte het gelei tot die ontwrigting van klasse, vandalisme op universiteitsgronde asook gewelddadige aanvalle met onder meer swepe en sambokke op sommige studente.

AfriForum Jeug meen die redes vir die protes sluit in dr. Blade Nzimande, minister van hoër onerwys en opleiding, se politieke agenda om universiteite op ’n rassegrondslag te transformeer, die onwettige optrede van radikale jeuggroepe soos die EFF en universiteitsowerhede se versuim om op te tree teen studente wat hulself skuldig maak aan onwettige gedrag.

Maree het beklemtoon dat AfriForum binne die raamwerk van die wet optree, maar dat AfriForum nie sal skroom om met die nodige daadkrag  op te tree en studente se regte te beskerm nie.

Die voorkomingsplan is van toepassing op kampusse waar AfriForum Jeug reeds gevestigte jeugtakke het. Dit sluit in die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit, die Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van die Vrystaat, Grootfontein Landboukollege, Elsenburg Landboukollege en die Potchefstroom Landboukollege.

Maree het gesê ander kampusse wat die behoefte het om ’n jeugtak te stig, kan AfriForum kontak.

Die 10-punt plan behels:

  1. Skrywes aan die ministers van hoër onderwys en opleiding en landbou, bosbou en visserye
  2. Skrywes aan die onderskeie kampushoofde
  3. Protesaksies
  4. Regsoptrede
  5. Dokumentêre video’s
  6. Privaat sekuriteit
  7. Kampus-reaksieplanne
  8. Veiligheidsvergaderings
  9. Opleiding van studente oor hul regte en in selfverdediging
  10. Petisie onder Afrikaanse Alumni

 

Met verwysing na veiligheidsaksies het Cameron gesê AfriForum het reeds privaat veiligheidsmaatskappye na Elsenburg gestuur en hoewel hulle nie op kampus toegelaat is nie, was hulle sigbaar indien  ernstige geweld sou uitbreek.

Cameron het gesê een van die grootste uitdagings is dat baie van die gewelddadige betogers nie studente van die onderskeie universiteite is nie. “Hulle word opgesweep deur politieke leiers wat probeer naam maak op kampusse en moedig ander mense op kampus aan om gewelddadig op te tree.”

Cameron het bygevoeg dat enige student wat deur die nadelige gedrag geraak word, deur AfriForum gehelp kan word. “Ons gaan nie  vir die staat wag om in te tree nie. Daar is duidelik reeds ’n probleem met die hantering van geweld op kampusse.”

Hy het ook gesê dat dit baie belangrik is dat studente moet weet hoe om op te tree indien hulle hulself in gewelddadige omstandighede op kampus bevind. “Die EFF orkestreer hul planne om verwoesting op kampusse te saai en ons gaan planne vir veiligheid orkestreer.”

Met betrekking tot opleiding, het Cameron gesê dat student ingelig moet wees en weet wanneer hulle hulself, binne die raamwerk van die wet, mag beskerm. AfriForum het ook relevante buurtwagte gevra om bystand te lewer.

Volgens Cameron word ook gekyk na die moontlikheid van ’n hofaansoek teen die EFF wat hulle verbied om geweld aan te hits en rassistiese uitsprake soos  Kill the Boer te maak. Dié uitsprake is verlede week op Elsenburg gemaak waar gemoedere oorgekook het.

AfriForum Jeug het ʼn kort video vervaardig in reaksie op die aantygings wat in die dokumentêre video: “Luister” – vervaardig deur die Open Stellenbosch-beweging – gemaak word.

Kyk die video hier:

 

Soortgelyke plasings