|

Nóg meer in Zeerust kan noodhulp verleen danksy AfriForum-buurtwag

AfriForum se Zeerust-buurtwag het onlangs gemeenskapslede opgelei om broodnodige hulp tydens noodsituasies te verleen. Altesaam 12 gemeenskapslede, wat deel van dié buurtwag vorm, het onlangs vlak 1-noodhulpopleiding ontvang. Die opleidingsprogram is deur Forum Sekuriteit saamgestel en word vir al AfriForum se buurtwaglede aangebied om hul te ontwikkel en te versterk.

“Dit is noodsaaklik vir buurtwaglede wat patrollies ry om ’n basiese kennis van noodhulp te hê sodat hulle vinnig en doeltreffend op noodgevalle kan reageer. Hierdie noodhulpopleiding stel buurtwaglede in staat om dadelik hulp aan slagoffers te verleen en hul te stabiliseer terwyl daar op nooddienste gewag word,” sê Madelein van der Walt, steunspanleier by AfriForum se Zeerust-tak.

As deel van die Zeerust-buurtwag se verbintenis om die gebied so veilig moontlik te maak, gaan die buurtwag later vandeesweek (19 April) in sy massas deur Zeerust ry. Nagenoeg 20 buurtwaglede gaan van 20:00 tot 04:00 patrollies deur die dorp ry.

“Dit is belangrik om ’n proaktiewe benadering te volg en patrollies in die gemeenskap te ry om misdadigers in hul spore te stuit. Gereelde patrollies help om makliker verdagte aktiwiteite en potensieel gevaarlike situasies te identifiseer en vinnig op noodgevalle te reageer. Dit is ook waarom die onlangse noodhulpopleiding so belangrik is,” sê Pierre van der Walt, leier van die Zeerust-buurtwag.

Kontak Van der Walt by 082 569 8564 vir meer inligting oor dié buurtwag en hoe om daar betrokke te raak.

Soortgelyke plasings