|

Kuberboeliegids bekendgestel vir bewusmaking oor gevare van tegnologie, sosiale media

AfriForum se teenboelieveldtogafdeling en privaatvervolgingseenheid het vandag – die eerste dag van die Nasionale Kinderbeskermingsweek – tydens ’n mediakonferensie saam met ’n paneel kundiges ’n kuberboeliegids bekendgestel om ouers en opvoeders met die nodige vaardighede toe te rus om kuberboeliery te identifiseer en stop te sit.

Hierdie kuberboeliegids, wat gratis beskikbaar is, is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, die polisie se reeks- en elektroniese misdaadeenheid (SECI), die Universiteit van Johannesburg en Unisa saamgestel en bespreek die erns van kuberboeliery, kinderpornografie en seksskrywery (sexting).

’n Skokkende 60% van tieners neem aan seksskrywery deel en beskou dit as normaal. Kapt. Veronica Banks van die SAPD se Gautengse misdaadeenheid vir elektroniese misdaad, wie se eenheid in kinderpornografie spesialiseer, het gesê die gevalle van kinderpornografie wat kinders self opneem, neem toe.

“Ons jongste slagoffer wat gesê het hulle is verslaaf aan pornografie, is ses jaar oud. Kinders dink nie daar is fout daarmee om foto’s van hulleself te neem of video’s te maak nie. Dit is gewoonlik eers as hulle ouers daarvan bewus word of sodra dit versprei word wat hulle sal sê hulle is ’n slagoffer of selfdoodneigings sal toon.”

Volgens Banks kyk ouers nie na die foto’s en video’s op hul kinders se fone of na die webwerwe wat hulle besoek nie. “Ons moet kinders leer dat die dele wat ’n swembroek toemaak, privaat is en nie veronderstel is om op ’n foto of video op hulle fone te wees nie.”

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, het tydens die konferensie gesê boeliery het ook nou uitgekring na sosiale media wat beteken die boelie gaan saam met die slagoffer huis toe en die boeliery vind konstant plaas. Daarom lig die gids ouers en onderwysers ook in oor die gevare van die internet en sosialemediaplatforms, asook hoe hulle proaktief kan optree om kinders te help.

“Suid-Afrika is die land wat die vierde hoogste is wat kuberboeliery aanbetref. Ouers is nie altyd bewus dat hulle kinders geboelie word nie en 54% van Suid-Afrikaanse ouers het al aangedui dat hulle kinders of kinders in hul gemeenskap slagoffers van kuberboeliery is.”

Daar is ook gevolge vir diesulkes wat hulle skuldig maak aan boeliegedrag. Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gesê dit is krities belangrik dat ouers en onderwysers presies weet wat boelie behels en dat die regte dissiplinêre optrede teen die skuldiges toegepas word. “Die dissiplinêre optrede moet vir die een wat verkeerd gedoen het en vir die slagoffer dieselfde uitkoms gee en moet konsekwent toegepas word wat dan as ’n voldoende afskrikmiddel sal dien.”

Vorster het benadruk dat kubermisdadigers swaar vonnisse opgelê kan word. “Indien jy ’n beeld van iemand stuur en die persoon kan nie geïdentifiseer word nie, kan die beskuldigde R150 000 of twee jaar gevangenisstraf opgelê word. Indien die persoon of plek geïdentifiseer kan word (jy hoef nie die persoon se gesig te kan sien nie; al is dit net in ’n omgewing wat identifiseerbaar is), kan die beskuldigde R300 000 of vier jaar gevangenisstraf opgelê word.

“Die blote aanstuur of verspreiding van enige skadelike elektroniese beelde of boodskappe is ’n misdryf. Dus al ontvang jy dit heel onskuldig en stuur dit weer aan, maak jy jouself skuldig aan ’n misdryf,” het Vorster gesê.

Yolandi Singleton, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum, het gesê hulle het tussen Junie 2022 en Desember 2022 ’n toename in klagtes van seksuele misbruik by die sentrum gehad. Sy het klem gelê oor die belangrikheid van goeie verhoudings en kommunikasie tussen ouers en hul kinders sodat daar met meer gemak oor moeilike onderwerpe gepraat kan word. “Hierdie gids leer ouers en onderwysers ook hoe om situasies te hanteer wanneer hul kind met kuberboelies, kinderpornografie en seksskrywery te doen kry.”

Ouers moet duidelike grense stel wanneer dit kom by die gebruik van ’n selfoon. Singleton en prof. Basie von Solms van die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit, het hierdie benadruk en bygevoeg dat ouers hulle moet vergewis van die tipe toepassings wat kinders gebruik (sien gids).

Volgens Von Solms is daar uitstekende programme en toeps wat kinders se selfoontyd beheer of reguleer. “Gaan ’n ooreenkoms met jou kind aan oor die gebruik van ’n selfoon en stel grense. Jy as ouer moenie of kan nie sê jy het nie geweet van die risiko’s nie.”

Die kuberboeliegids is gratis beskikbaar by www.teenboelie.co.za en sal binnekort ook in Engels beskikbaar wees.

Soortgelyke plasings