|

SELFDOOD – DEEL 2

Deur Gerhard Nieuwoudt – Distrikskoordineerder by AfriFroum

Dit kan moeilik wees om oor selfdood te dink – nog moeiliker om daaroor te praat. Baie mense skram weg van die onderwerp en vind dit skrikwekkend, selfs onmoontlik om te verstaan. Selfdood kan beslis moeilik wees om te verstaan, want dit is nie altyd duidelik waarom iemand hierdie keuse maak nie. Maar in die algemeen is selfdood dikwels nie net ’n impulsiewe daad nie. Die lyk vir mense wat dit oorweeg, miskien na die logiesste oplossing.

Praat maak saak. Selfdood kan voorkom word, maar om dit te voorkom, moet ons daaroor praat – en die manier waarop ons daaroor praat, is belangrik. Dit begin met die uitdrukking “pleeg selfmoord.” Aktiviste vir geestesgesondheid en ander kundiges het daarop gewys dat hierdie bewoording bydra tot stigma en vrees en kan voorkom dat mense in nood hulp soek. Mense “pleeg” misdade, maar selfdood is nie ’n misdaad nie. Aktiviste stel voor dat selfdood ’n beter, deernisvolle woord is.

As jy nog nooit daaraan gedink het om jou eie lewe te neem nie, kan dit vir jou moeilik wees om te verstaan waarom iemand dit sou oorweeg om op hierdie manier te sterf. Kundiges verstaan nie eens volkome waarom sommige mense dit doen nie, alhoewel ’n reeks geestesgesondheidskwessies en lewensomstandighede ’n rol kan speel.

Die volgende probleme met geestesgesondheid kan almal se risiko vir selfdoodgedagtes verhoog:

  • depressie;
  • dwelmgebruiksversteuring;
  • bipolêre versteuring; en
  • posttraumatiese stresversteuring.

Alhoewel nie almal wat probleme met geestesgesondheid ervaar, selfdood sal probeer of selfs oorweeg nie, speel diep emosionele pyn dikwels ’n belangrike rol in selfdoodgedrag en die risiko van selfdood. Ander faktore kan ook tot selfdood bydra, insluitend:

  • verbreking van ’n verhouding of verlies van ’n belangrike persoon;
  • verlies van ’n kind of goeie vriend;
  • finansiële nood;
  • aanhoudende gevoelens van mislukking of skaamte;
  •  ’n ernstige mediese toestand of terminale siekte;
  • regsprobleme, soos om skuldig bevind te word aan ’n misdaad;
  • nadelige ervarings in die kinderjare, soos trauma, mishandeling of afknouery;
  • diskriminasie, rassisme of ander uitdagings wat verband hou met immigrante of minderhede; en
  • ’n geslagsidentiteit of seksuele oriëntasie wat nie deur familie of vriende ondersteun word nie.

As jy meer as een soort nood ervaar, kan jou selfdoodrisiko verhoog. Iemand wat byvoorbeeld depressie, finansiële probleme weens werkverlies en regsprobleme het se selfdoodrisiko kan hoër wees as iemand wat net een van hierdie probleme ervaar.

Dit is egter noodsaaklik wanneer jy selfdoodgedagtes het om met iemand daaroor te praat. Praat met iemand wat jy vertrou en wees eerlik oor jou gevoelens. Hoe meer ons openlik hieroor praat hoe vinniger gaan ons die stigma rondom selfdood vernietig.

Ek wil egter vanjaar se blog op ’n positiewe en opbouende noot afsluit. Die vakansieseisoen kan ’n gelukkige tyd vol inkopies, versiering, koekies bak en gesinsbyeenkomste wees. Dit kan ook vir sommiges uitdagend wees en kan ’n moeilike tyd van die jaar wees. Of jy nou ’n eerste vakansie sonder ’n geliefde of konflik met ’n familielid in die gesig staar of jou geestesgesondheid nie na wense is nie, is hier ’n paar wenke om jou te help om die vakansietydperk te oorleef en om na jou geestelike gesondheid om te sien.

Kies die geleenthede wat jy bywoon noukeurig

Woon die geleenthede by wat jou vreugde verskaf, iets wat jou goed laat voel. As dit nie in dié kategorieë val nie, moet jy nie verplig voel om te gaan nie.

Maak weer kontak met vriende en familie en drink koffie in plaas van alkohol.

Alkohol kan depressie, angs, veranderinge in jou slaappatroon of negatiewe gevoelens veroorsaak.

Buitelug

Wanneer die vakansie aanbreek, is dit maklik om meer as gewoonlik te eet en te drink. Deur aktief te bly, beskerm jy nie net jou fisieke nie, maar ook jou geestesgesondheid. Gaan stap saam met jou gesin, probeer fiets ry of gaan kamp!

Doen iets vrywilliglik

Die behoefte aan vrywilligers is altyd hoog gedurende die vakansie. Kontak jou gunstelingliefdadigheidsorganisasie en hoor of hulle hulp nodig het. Vrywilligerswerk kan help om jou spanning te verminder, jou bui te verbeter en jou geluk te verhoog terwyl jy ander help.

Stel realistiese familieverwagtinge

Konflik in gesinne is gedurende die vakansie baie algemeen en ook baie normaal. Besef dit en probeer om nie verwagtinge te stel vir gesinstyd nie. As jy vasgevang raak in konflik, neem dan ’n bietjie tyd vir jouself. Gaan stap, luister na musiek, oefen asemhalingstegnieke of lees ’n boek.

Bederf jouself

Vakansietye is ons kalenders vol. Sorg dat jy een dag of een oggend vir jóú oophou. Doen wat jou laat ontspan en vreugde verskaf. Kyk ’n gunstelingvakansiefilm, bak koekies of kry ’n massering. Selfsorg is so belangrik!

In my volgende skrywe sal ons meer gesels oor selfdoodwaarskuwingstekens.

Ek wens julle almal ’n geseënde Christusfees en ’n voorspoedige 2021 toe.

Soortgelyke plasings