| |

AfriForum se Karoo-takke woeker tydens feesseisoen

Die AfriForum-takke in die Karoo het gedurende die afgelope feestyd weer gewys hoe groot rol hulle in die plaaslike gemeenskappe speel deur die verskeie aksies wat hulle suksesvol aangepak het.  

Die Kimberley-tak het op 17 Desember saam met ander rolspelers in die gemeenskap sowat 100 glase aan die Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal geskenk.

“Ons het verneem dat daar ’n behoefte aan glase is ná ’n boodskap op WhatsApp die ronde gedoen het dat daar in sommige sale nie glase of iets soortgelyk beskikbaar is vir pasiënte om uit te drink nie. In hierdie somer waar ons nie net erge hitte ervaar het nie, maar ook met die baie reën vreeslike bedompige dae ervaar het, kon ons net dink hoe sleg dit moet wees wanneer ’n mens nie eers jou dors kan les wanneer jy siek in die hospitaal lê nie,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die AfriForum-tak in Prieska het op 16 Desember 2021 hul jaarlikse Geloftedag feesvieringe aangebied. Daar is soos altyd ’n kranslegging by die Johanna van der Merwe gedenksteen gehou en ds. Rudi Janse van Vuuren het die diens gelei. Marius Nagel wat as spreker by hierdie geleentheid opgetree het, het meer oor die geskiedenis van die dag vertel.

“Die Johanna van der Merwe-gedenksteen is dalk klein maar dit verteenwoordig Johanna se waagmoed en ook die moed en deursettingsvermoë van ons Afrikanervolk en ons liefde vir ons medemens. Met hierdie kranslegging wil ek hê dat julle aan Johanna sal dink as ’n baken van hoop en ’n metafoor vir iets groter – die pad wat deur ons voorouers gelê is sodat ons vandag hier kan staan, vry in ons geloof en vry om deur ons mede-Afrikaners omring te word,” sê Marianne Hennig, ’n lid van die gemeenskap wat ook op hierdie geleentheid gepraat het.

AfriForum se Vaalharts-buurtwag het ook in samewerking met Hartswater Crime Watch deurlopend patrollie gery om misdaad, wat veral tydens die feestyd hoog is, te verminder.

“Daar is tydens die feestyd gewoonlik ’n toename in misdaad en daarom is dit altyd ’n prioriteit vir die buurtwagte om sigbaar te wees en proaktief op te tree,” sluit Van der Linden af.

Soortgelyke plasings