|

Nasionale wenners gekroon in AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskooleerders

Die finale rondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders het Saterdag (7 Oktober 2023) by Akademia se Leriba-koshuis in Centurion plaasgevind. Die kompetisie word jaarliks met uitdunne in vyf streke vir junior en senior spanne aangebied, waarna die streekswenners in die finale rondte teen mekaar meeding om die nasionale wenners te bepaal.

In die junior afdeling het spanne van Hoërskool Framesby, Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Durbanville, Merensky Landbou Akademie en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje teen mekaar meegeding. Hoërskool Durbanville se Angelique en Genevive Myburgh en hul spanmaat Lenae le Roux het as die nasionale kampioene uit die stryd getree, met Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se Anja Botha, Dané van Graan en Heide Potgieter in die tweede plek.

In die senior afdeling was die vyf streekswenspanne van Hoërskool Framesby, Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria, Hoërskool DF Malan, Hoërskool Pietersburg en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje afkomstig. Die span van Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria, bestaande uit Wian van Rooyen, Ignus Ferreira en Naudé Lourens het met die louere as wenners van 2023 weggestap, met C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter as naaswenners.

Volgens Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, was dit in beide gevalle naelbyt eindstryde. “Die room van die room het teen mekaar gedebatteer. Die entoesiasme van die leerders tydens die streeksuitdunne en die finaal weerspieël dat Afrikaanse debat sterk staan. AfriForum sien uit daarna om die kompetisie in 2024 nog verder uit te brei en oor die hele land heen te versterk!”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem dat debat ’n vaardigheid is wat leerders op verskeie terreine bemagtig en dat dit daarom tot alle deelnemers se voordeel strek om aan hierdie kompetisie deel te neem. “Die groot voordeel van Dink of Sink is dat dit werklik ’n onvoorbereide debatskompetisie is en dat leerders geen voorbereiding hoef te doen nie, buiten om ingelig oor aktuele sake te wees. Hulle kry hul onderwerpe letterlik vyf minute voor elke debat ’n aanvang neem, en weet ook dan eers of hulle vír of téén die bepaalde onderwerp moet argumenteer. Hulle moet dus flink op hul voete dink en dit kon die deelnemers aan die finale rondte beslis uitnemend doen.”

Navrae oor Dink of Sink 2024 kan gerig word aan debat@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings