|

AfriForum-tak in Wolmaransstad maak groot verskil

Die AfriForum-tak in Wolmaransstad het die afgelope maand gewoeker in die dorp om ’n verskil te maak. Die tak het skoonmaakaksies aangepak en sowat 130 sakkies teer gebruik om slaggate te vul.

In Bouwerstraat het die tak 80 sakkies teer gebruik om slaggate te vul en in Delarey- en Potgieterstraat is 50 sakkies teer gebruik. “Hoewel die strate in só ’n toestand is dat 130 sakkies teer maar net ’n druppel in die emmer was weet ons dat elke bietjie ’n verskil maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak het ook met die hulp van die “Working on Fire”-span ingespring om een van die laerskole in Wolmaransstad te help om hul sportvelde skoon en netjies te kry. Die tak het op 27 Januarie ook die terrein by die Boeresaal opgeknap deur die gras te sny en te sorg dat dit in die algemeen netjies is.

“Baie dankie aan die span wat werklik ’n verskil in Wolmaransstad maak. Die mense van “Working on Fire” werk hartlik saam en maak die tak se hande sterk. Daar sal egter baie meer gedoen kan word as die lede van die gemeenskap ook almal betrokke raak en ek wil hulle aanmoedig om dit te doen,” sê Pretorius verder.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Wolmaransstad” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings