|

AfriForum onthul: Bekostigbare privaat kliniek in Diepsloot wys onsinnigheid van NGV-wetsontwerp uit

Gesondheidsentrums soos die Unjani Clinic in Diepsloot bewys dat die ANC-regering ’n valse narratief probeer verkoop oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Dít is die fokuspunt van AfriForum se nuutste video wat wys hoe privaat klinieke ’n bekostigbare diens aan arm gemeenskappe lewer. Met hierdie video neem die burgerregteorganisasie opnuut standpunt in teen die NGV-wetsontwerp.

Volgens AfriForum skets die voorstanders van NGV ’n verwronge beeld van privaat gesondheidsorg in Suid-Afrika om NGV dan as enigste oplossing aan te bied. In dié beeld word die privaat sektor slegs deur inhalige sakemanne en dokters bestuur en eksklusief deur ryk pasiënte met mediese fondse benut. Om hierdie “onreg” reg te stel, word dan geëis dat privaat mediese fondse glad nie meer basiese gesondheidsdienste mag verseker nie.

AfriForum se video onthul dat daar inderdaad verskeie rolspelers in die privaat gesondheidsektor is wat fokus op arm gemeenskappe en bekostigbare dienste lewer tot opheffing van dié gemeenskappe. Indien die NGV-wetsontwerp volledig toegepas word, sal die bestaan van hierdie klinieke ernstig in gedrang gebring word.

Volgens Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor NGV, is die NGV-wetsontwerp ’n tipiese wolf in skaapsklere. Dit word voorgehou as gratis gesondheidsorg vir almal, maar is in der waarheid niks anders as die ontneming van vryheid en ekonomiese volhoubaarheid van die gesondheidsbedryf nie. “Ons het eerstehands beleef hoe welwillende gesondheidswerkers onontbeerlike diens aan ’n behoeftige gemeenskap lewer en bloot ’n billike privaat vergoeding verwag. NGV sal hierdie dienste groot skade berokken en alle Suid-Afrikaners sal slegter daaraan toe wees,” verduidelik Boshoff.

Soortgelyke plasings