|

Solidariteit gaan VN toe om rassewette in Suid-Afrika te beëindig

Solidariteit het vandag aangekondig dat hulle in November ’n verslag aan die Verenigde Nasies (VN) gaan voorlê waarin geëis word dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum vir die afskaffing van regstellende aksie en alle gepaardgaande raswette moet stel.

“Daar moet ’n einde aan die regering se raswette kom en die tyd is nou. Staatsdienste is disfunksioneel en die regering se beheptheid met ras het ’n ongelooflike groot rol daarin gespeel. Boonop teiken die regering nou ook die privaat sektor en die land kan dit bloot nie bekostig nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Solidariteit het reeds in 2016 ’n klein oorwinning by die VN behaal toe daar beslis is dat die Suid-Afrikaanse regering nie aan die nodige standaarde ten opsigte van die toepassing van regstellende aksie voldoen nie. Solidariteit het ook in 2021 die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) genader ná plaaslike remediëring uitgeput is om die regering oor hul raswette aan te vat. Hierna is ’n proses van mediasie gevolg en ’n ooreenkoms, met verrykende gevolge, is in Junie vanjaar tussen die regering en Solidariteit bereik. Hiervolgens mag daar byvoorbeeld geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie en die inherente vereistes van ’n pos kan in ag geneem word vir aanstelling en bevordering.

Die regering het blykbaar nog nie die memo gekry dat hul raswette nie werk nie.

Alhoewel bogenoemde ooreenkoms uit verskeie oorde as ’n reuse-oorwinning beskryf is, sê Solidariteit die stryd teen die regering se rassebeleide is nog nie verby nie.

“Die doel van die veldtog is om die regering se raswette in die kollig te plaas en ’n einde daaraan te maak. Ons glo die wette bring nie gelykheid soos die regering dit wil voorhou nie, maar saai eerder verdeeldheid,” sê Pieter Jordaan, hoof van Nuus en Publisiteit by Solidariteit.

Pieter Jordaan, hoof van Nuus en Publisiteit by Solidariteit

Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake, sê die ideaal is dat aanstellings op meriete gemaak word en dat gevalle waar regstellende aksie wel toegepas word, die toepassing net tydelik van aard moet wees. “Die regering verkondig nierassigheid, maar hul beleide stem nie ooreen met wat hulle sê nie. Die regering het blykbaar nog nie die memo gekry dat hul raswette nie werk nie.”

Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake

Hermann sê Solidariteit tree op namens gewone Suid-Afrikaners wat moeg is vir die probleme by Eskom of daagliks deur slaggate ry en boonop met grootskaalse plundering van staatsentiteite moet saamleef.

“Raswette moet afgeskaf word en afhanklikheid van die staat moet gebreek word. Suid-Afrika is ’n land met ongelooflike potensiaal en veerkragtigheid wat uit die huidige omstandighede kán opstaan, mits die regering van hul rasse-ideologie en sentralisasie van magte afstand doen.”

Solidariteit gaan hul verslag op 27 en 28 November aan die VN voorlê. Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings