|

Meer as 1 000 AfriForum-buurtwaglede in Vrystaat, Noordwes en KZN neem aan nasionale massapatrollie deel

Minstens 1 088 AfriForum-buurtwaglede van die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal het Vrydag (13 Oktober 2023) in hul onderskeie dorpe, stede en streke aan dié burgerregteorganisasie se derde nasionale massapatrollie vir die jaar deelgeneem. ’n Totaal van 16 880 km is in hierdie drie provinsies – in AfriForum-geledere bekend as die Sentraalstreek – met 537 voertuie afgelê.  

Sentraalstreek het die massapatrollie in samewerking met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), nooddienste en sekuriteitsmaatskappye onderneem. AfriForum organiseer hierdie patrollies om onder meer gemeenskapsveiligheid te bevorder, sigbare beveiliging te verhoog en samewerking met die SAPD en sekuriteitsmaatskappye te verbeter.

Volgens Johnnie van der Walt, AfriForum se telekommunikasiebestuurder, is geen ernstige voorvalle in hierdie streek tydens Vrydag se patrollies aangemeld nie.

“Die Sentraalstreek se buurtwagte sal voortgaan om deurlopende aksies en patrollies in samewerking met die polisie te hou om sodoende misdaad in die onderskeie gebiede te bekamp. Ons moedig die gemeenskap aan om deel te word hul plaaslike AfriForum-buurtwag,” sê Van der Walt.

Soortgelyke plasings