|

Wes-Moot-buurtwag trek vermeende huisrower binne minute vas

’n Lid van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het gister daarin geslaag om met behulp van Uberwachung ’n vermeende huisrower binne net drie minute vas te trek in die Mountain View-area. Díe sukses is te danke aan die buurtwag se kameraprojek en goeie samewerking tussen buurtwagte en plaaslike sekuriteitsmaatskappye.

Die buurtwaglid is omstreeks 10:22 deur die beheerkamer in kennis gestel dat ’n verdagte persoon poog om by sy motorhuis in te breek. Die buurtwaglid was op pad na sy huis toe en daar aangekom was die vermeende dief besig om onder die motorhuisdeur uit te kruip. Die verdagte het op die vlug geslaan en die buurtwaglid het hom te voet agternagesit.

Intussen het die beheerkamer ’n wag van Uberwachung ontplooi om hulp te verleen. Die buurtwaglid het die verdagte in die rigting van Mignonstraat gejaag waar die Uberwachung-wag gehelp het om die verdagte op die hoek van Mignonstraat en Daphnelaan aan te keer. Die verdagte is teen 10:25 suksesvol vasgetrek.

Die verdagte is aan die Hercules SAPD oorhandig en word na bewering ook verbind met gewapende roof, huisbraak en diefstal. Die verdagte is ook voorheen toegesluit vir huisbraak en word na bewering verbind met soortgelyke misdade in die Wonderboompoort-omgewing.

Die AfriForum Wes-Moot-buurtwag se kameraprojek werp sedert 2022 vrugte in dié omgewing af. Kameras is op strategiese punte opgerig en word deurgaans gemoniteer ten einde te help om misdaad te bekamp.

“Hierdie sukses wys opnuut hoe belangrik dit is dat veiligheidsrolspelers goeie verhoudings moet hê ten einde misdaad doeltreffend te bekamp. Ons is sterker wanneer ons saam staan,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek. “AfriForum sal voortgaan om ons buurtwagte en takke op voetsoolvlak te versterk sodat hulle sodoende hul gemeenskappe beter kan dien.”

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste tak aan te sluit en só ’n daadwerklike verskil in jou omgewing te maak.

Soortgelyke plasings