|

Drie nuwe kameras help om Delportshoop te beveilig

Om misdaad op ’n klein Noord-Kaapse dorp langs die Vaalrivier te stuit, het AfriForum se Delportshoop-tak besluit om ’n proaktiewe benadering te volg en drie nuwe veiligheidskameras in dié dorp op te rig. Al hierdie kameras is Dinsdag opgerig met die doel om misdaad hok te slaan.

“Die kameras gaan ’n deurslaggewende rol speel in die Delportshoop-gemeenskap se bestaande veiligheidsmaatreëls. Dit dien nie net as afskrikmiddel nie, maar help ook om misdadigers te identifiseer sodat wetstoepassers hulle voor die hof kan bring,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Volgens Van der Linden gaan die kameras slegs vir misdaadvoorkoming en -bekamping gebruik word, en gaan die Delportshoop-buurtwag streng beheer oor die kamers se beeldmateriaal uitoefen.

Die veiligheidskameras is een van vele maniere waarop AfriForum se Delportshoop-tak misdaad help bekamp. Voordat die tak die kameras aangekoop het, het hy ’n buurtwag op die been gebring wat patrollies deur die dorp ry. Die tak het ook vandeesweek straatligte in dele van die dorp opgerig wat gereeld in donkerte gehul word. Altesaam vier ligte is opgerig, en elkeen sal toesien dat boosdoeners nie ongesiens in die dorp rondbeweeg nie.

“Hierdie kameras is ’n broodnodige stap tot ’n veiliger dorp. AfriForum se Delportshoop-tak en sy buurtwag sal voortgaan om in die veiligheid van die gemeenskap te belê,” sluit Van der Linden af.

Soortgelyke plasings