|

AfriForum maan sosialemediagebruikers oor fopnuusveldtogte téén organisasie

Dit het onlangs onder AfriForum se aandag gekom dat ’n ernstige en kwaadwillige fopnuusveldtog op sosiale media gedryf word in ’n poging om die burgerregteorganisasie te beswadder. AfriForum het intussen teen sekere sosialemediagebruikers opgetree deur aanmanings te stuur en te eis dat hulle onmiddellik die verspreiding van die vals, misleidende en lasterlike inhoud staak, die plasings verwyder en regstellings plaas. Indien die betrokkenes voortgaan om die burgerregteorganisasie te beswadder, sal regstappe teen hulle gedoen word.

Ongegronde bewerings dat AfriForum-lede by allerlei misdade betrek word, word die afgelope paar weke op sosiale media geplaas. Dié valshede het van AfriForum ’n teiken gemaak, maar die burgerregteorganisasie wil dit duidelik stel dat hierdie bewerings nie net onwaar is nie, maar verdeeldheid saai in ’n tyd waar Suid Afrika ’n nuwe politieke rigting inslaan.

Die valshede wat tans die ronde doen sluit onder meer in dat:

  1. ’n vermeende dwelmplaas in Limpopo deur AfriForum se “Limpopo-voorsitter” bedryf word;
  2. die verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle twee vroue vermoor en hul lyke vir varke gevoer het, AfriForum-lede is;
  3. ’n verdagte wat glo twee Mpumalanga-mans vermoor en hul lyke verbrand het, ’n AfriForum-lid is; en
  4. AfriForum-lede in Hartbeespoort swart sake-eienaars teiken en hul besighede afbrand.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê dis uiters gevaarlik om hierdie onwaarhede te versprei, aangesien dit rasseverhoudinge onnodig polariseer en haat aanwakker. “Daar is geen waarheid in hierdie bewerings nie en geen AfriForum-lede was by hierdie grusame misdade betrokke nie. Dit is net nóg ’n desperate poging om AfriForum se werk met valshede te oorskadu,” sê Broodryk.

Benewens hierdie leuens doen daar boonop ook bewerings die ronde dat AfriForum ’n terreurorganisasie is. “Hierdie stelling is absurd, onwaar en ’n duidelike poging om die burgerregteorganisasie en sy lede in ’n swak lig te stel. AfriForum glo in wedersydse respek en samewerking tussen gemeenskappe, daarom word hierdie pogings om polarisasie te saai ten sterkste veroordeel,” voeg Broodryk by.

AfriForum sal voortgaan om sy werk in gemeenskappe te doen en nie toe te laat dat die valshede van sy fokus wegvat nie.

Soortgelyke plasings