|

‘Bela-wet is daad van aggressie teen Afrikaans’

Indien pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) Vrydag (13 September) onderteken gaan dit Afrikaanssprekendes in die algemeen en Afrikaners in besonder se grondliggende belange aantas. Dit gaan lei tot vervreemding en gaan in baie kringe as ’n daad van vyandskap van die regering beskou word. Só het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, vandag op ’n gesamentlike mediakonferensie gesê.

AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, die Skoleondersteuningsentrum (SOS), die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Afrikaanse Onderwysnetwerk het by dié konferensie weer eens hul teenkanting teenoor hierdie vernietigende wet uitgespreek. Hulle het ook aangekondig dat hulle regstukke gereed is indien Ramaphosa wel voortgaan om hierdie wet te bekragtig.

Buys het daarop gewys dat Ramaphosa as staatshoof in belang van almal moet optree en nie net in belang van ’n sekere groep nie. Hy het daarom ’n ernstige beroep op hom gedoen om nie die Bela-wet te onderteken nie. “Ons sal graag in gesprek met Ramaphosa wil tree. Dit is tyd om nie net oor mekaar te praat nie, maar om eerder met mekaar te praat.”

Alhoewel almal bewus is van die uitdagings wat daar by skole in die swart gemeenskappe is, is die oplossing, volgens Buys, nie om Afrikaanse skole te teiken nie. Die oplossing is eerder om alles in die stryd te werp om te sorg dat almal in die land toegang tot gehalte-onderwys het, asook om meer skole te bou. Nog ’n oplossing is om meer vryhede aan die goed presterende skole te gee en om op die skole wat uitdagings het te fokus, sê Buys.

Volgens die paneellede blyk dit asof die regering nie begrip het vir die bekommernisse wat die Afrikaanse gemeenskap oor die Bela-wet het nie.

AfriForum (en die ander organisasies) maak al sedert die eerste konsepwet in 2017 verskyn het, beswaar teen dié wet. Daar is veral teenkanting oor die artikels wat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleid van beheerliggame ontneem.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beskou die organisasie die Bela-wet as ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole moontlik maak, wat sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang bring.

Bailey het verder gesê dat daar deurlopend aan alle openbare raadplegingsgeleenthede op provinsiale en nasionale vlak deelgeneem is. “Hoe meer inligting oor die inhoud daarvan bekend geraak het, hoe meer het die teenstand daarteen gegroei. Dit is dus uiters teleurstellend dat die president beoog om dié wetsontwerp te onderteken. Dit is ’n aggressiewe minagting van die openbare mening en hiermee omskep hy die regering van nasionale eenheid (RNE) in ’n regering van nasionale verdeeldheid,” meen Bailey.

“Hierdie wet is ’n daad van aggressie teenoor Afrikaans. Dit gee aan amptenare die mag en ontneem gemeenskappe van die mag om oor skole se keuse van taal van onderrig te besluit,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die ondertekening gaan ook ’n waterskeidingsbesluit vir die RNE wees. Daarom het Hermann ’n beroep op die partye in die RNE gedoen om die ondertekening van die Bela-wet teen te staan, maar ook om ’n dispuut daaroor te verklaar.

“As Ramaphosa voortgaan om die wet te ondertekening hangende ’n dispuut, sal dit ’n duidelike aanduiding wees van sy erns oor die eenheid van die regering.”

Hermann het dit duidelik gestel dat die organisasies beslis hof toe sal gaan indien die wet Vrydag onderteken word.

Volgens Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, was die doel van die Suid-Afrikaanse skolewet aanvanklik om ’n openbare- eerder as ’n staatstelsel daar te stel aangesien die openbare stelsel aan gemeenskappe sekere magte verleen sodat hulle self besluite in belang van hul kinders kan neem.

“Dit is duidelik dat Afrikaanse skole sentraal staan in die volhoubare voortbestaan van ons taal en kultuurgemeenskap. Skole is nie vir ons net plekke waar kennis- en vaardigheidsoordrag plaasvind nie, dit is kulturele ruimtes waar waarde-oordrag plaasvind,” sê Fourie.

Hy het tydens die konferensie gesê dat 200 Afrikaanse skole die laaste 10 jaar totaal verengels het. “Hiermee kan ons sien dat die regering nie ernstig is oor moedertaalonderrig nie en hulle is ook nie ernstig oor eenheid in verskeidenheid nie. Hulle is ernstig oor eenheid en eentaligheid.”

Volgens hom bedreig die Bela-wet nie net skole nie, maar die voortbestaan van ons gemeenskappe. Daarom beskou SOS dit ook as ’n daad van aggressie. Hy het skole en beheerliggame aangemoedig om nie net amptenare se woord te aanvaar nie, maar om dit by ander organisasies en aan die wet te toets.

Een van die voorwaardes van die RNE was dat die Bela-wet in die huidige formaat nie onderteken sal word nie. Pres Ramaphosa gaan nou duidelik teen dié onderneming deur die ANC se eie doelstelling bo die toekoms van die land en sy kinders te plaas, sê Pretorius.

Volgens hom staan die FAK bankvas agter die Beweging-instellings se regstryd indien die Bela-wet onderteken word.

Van Solidariteit Helpende Hand het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur, gesê dat die Bela-wet nie net die Departement van Onderwys gaan raak nie, maar ook verskeie ander departemente. “Die impak van hierdie wetgewing gaan geslagte lank nog sigbaar wees. ’n Regering wat ernstig is oor sy toekoms, is ernstig oor sy ontwikkeling, opvoeding en opleiding binne gemeenskappe.

“Moenie naïef wees om te dink jy kan ’n onderwysstelsel verswak en dat jy dan ’n sterker gemeenskap gaan bou nie.”

Soortgelyke plasings