|

Dokumentêr wys hoe gemeenskappe haglike veiligheidstoestande weens oop grense tussen SA en Mosambiek pak

’n Dokumentêr wat AfriForum vandag vrygestel het, wys op die enorme uitdagings wat gemeenskappe op die grense tussen Suid-Afrika en Mosambiek in die gesig staar om hulself en hul eiendom te beskerm.

“The Carjacker’s Carnival”, is die tweede dokumentêr in die Open Borders-reeks en fokus ook op hoe die gebrek aan grensbeheer tussen die lande oorgrensmisdaad aanvuur. Die instroming van onwettige immigrante, die smokkel van gesteelde voertuie, sigarette, dwelms en vervalste goedere is aan die orde van die dag en die Suid-Afrikaanse ekonomie ly jaarliks miljarde rande se verliese. Tot 30% van gesteelde en gekaapte voertuie in Suid-Afrika word oor die landsgrense gesmokkel. Dit word dikwels in ander Afrika-lande herverkoop en of weer na Suid-Afrika teruggesmokkel. Kriminele elemente aan beide kante van die grense, sindikate, sakelui en korrupte amptenare is almal by die onwettighede betrokke. Oorgrensmisdaad het drasties geëskaleer sedert die geëlektrifiseerde heining in die negentigs afgeskakel is. Die grensdraad bestaan op talle plekke glad nie meer nie.

AfriForum se ondersoek het opnuut uitgewys dat vrywilligers, buurtwagte en ander burgerlike veiligheidstrukture genoodsaak is om self in te gryp om misdaad te probeer hokslaan. Gesamentlike operasies, ook met die SAPD, padblokkades en die inspan van snuffelhonde sorg wel vir welslae. Dit is ook van kardinale belang dat vrywilligers en buurtwaglede oor die nodige opleiding moet beskik in die uitvoering van hierdie operasies en optredes.

Die dokumentêr is onder meer by Hoedspruit, Komatipoort, Beitbrug en Hluhluwe verfilm.

“Dit was uiters inspirerend om te sien hoe burgerlikes besluit het om hierdie uitdaging aan te pak deur hul eie gemeenskappe te beveilig,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid en regisseur van die dokumentêr.

AfriForum het 159 buurtwagte landwyd en baie van hierdie burgerlike veiligheidstrukture val in grensgebiede. Hierdie vrywilligers moet daagliks oorgrensmisdaad beveg en ons is baie trots daarop dat hierdie film kan wys hoe effektief hulle is,” sê Broodryk.

Open Bordes: “The Carjacker’s Carnival” kan gekyk word op https://youtu.be/asf6McJAUUU of op www.afriforumtv.co.za.

Soortgelyke plasings