|

Agt dae, agt ton teer, 200 slaggate: Só wys Bloemhof-tak hul slag met slaggate

Agt dae en agt ton teer – dít is al wat AfriForum se Bloemhof-tak die afgelope week nodig gehad het om hul slag met slaggate ten toon te stel toe meer as 200 slaggate in dié dorp herstel is. Die aansienlike taak van die herstel van meer as 16 dosyn slaggate in Kerk- en Burgerrechstraat is vanaf 3 tot 10 September aangepak met die hulp van agt werkers wat meer as 28 slaggate per dag herstel het.

Die projek is aangepak in samewerking met Herotel en die Vryheidsfront Plus, en die Leewka-Teemane Plaaslike Munisipaliteit het met die skenking van agt ton teer ook hul bydrae tot die sukses van hierdie opknappingsaksie gemaak. 

Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, is Bloemhof se paaie in ’n uiters swak toestand en bied dit ’n ernstige bedreiging vir die veiligheid van padgebruikers en voetgangers. Juis daarom het die plaaslike AfriForum-tak besluit om dié projek ten bate van die gemeenskap aan te pak.

Hoewel die tak reeds ’n reusebydrae tot die slaggatprobleem op Bloemhof gemaak het, maan Nel dat daar nog baie werk is wat voorlê. “Die Bloemhof-tak het daarom vroeër vanjaar, as deel van die tak se insette vir die munisipaliteit se jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP), versoek dat daar in aanstaande jaar se begroting meer fondse vir die herstel van die dorp se paaie geallokeer moet word. Dit is ’n aspek wat beslis dringende aandag van die munisipaliteit vereis,” benadruk Nel.

Intussen het die tak ook onlangs, in reaksie op die munisipaliteit se swak dienslewering, sy eie vullisverwyderingsdiens op Bloemhof op die been gebring. Die tak het reeds ’n span werknemers aangestel om ook die dorp se hoofstraat skoon te hou en vullis by ondernemings te verwyder, en beoog om binnekort vullisdromme in die hoofstraat neer te sit in ’n poging om die gemeenskap aan te moedig om die strooi van rommel te beperk.

Jy kan ook ’n verskil maak!

Raak vandag nog betrokke by hierdie aktiewe en dinamiese tak. Besoek “AfriForum Bloemhof” op Facebook vir meer inligting oor die uiteenlopende projekte waarmee die tak besig is of kontak Nel by jp.nel@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings