|

Dihlabeng-munisipaliteit reageer ná volgehoue druk deur AfriForum

AfriForum het op 31 Januarie 2020 ’n skrywe aan die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die toestand van die Môrelig-vullisterrein in Bethlehem. Dít volg nadat AfriForum klagtes ontvang het rakende die toestand van die terrein en vullis wat buite die terrein gestort word.

Die burgerregtewaghond het die munisipaliteit versoek om die probleem voor 4 Februarie 2020 reg te stel. Die munisipaliteit het die terrein die afgelope week begin skoonmaak deur die vullis wat buite gestort is te begin verwyder. AfriForum het die munisipaliteit ook versoek om sowel hul plan vir die terrein as die datums waarop dit geïmplementeer word, voor te lê. Die organisasie het verder ’n dringende vergadering met die munisipaliteit versoek om die vullisterrein en toekomstige projekte te bespreek.

“AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen om te verseker dat probleme soos hierdie opgelos word. Die vullisterrein in die woongebied is nie ’n mooi prentjie nie en is boonop ’n gesondheidsrisiko. Dit is uiters belangrik dat sulke probleme dadelik die hoof gebied word om te verseker dat die gemeenskap ’n gesonde en veilige omgewing kan geniet,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Bethlehem” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings