|

AfriForum staan applikant by teen Gesondheidsberoeperaad wat Afrikaanse graadsertifikaat weier

Die burgerregteorganisasie, AfriForum, staan ’n sielkundestudent by met ’n regsgeding teen die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika om te verseker dat sy aansoek om registrasie oorweeg word. Tans weier die raad om die aansoek af te handel, omdat sy honneursgraadsertifikaat in Afrikaans is.

Die student, Du Toit Genis, is tans besig met sy meestersgraad in Sielkunde. Ten einde sy studies te kan voltooi, moet hy by die raad as intern sielkundige registreer. As deel van die vereistes moes hy die sertifikaat wat bevestig dat hy in 2018 ’n honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het, indien. ’n Verteenwoordiger van die raad het hom hierna per e-pos in kennis gestel dat die registrasieproses nie kan voortgaan nie, aangesien die sertifikaat in Afrikaans is. Sy vertoë dat sy puntestate wat hy ook ingedien het, volledig in Engels beskikbaar is, het op dowe ore geval. Die raad se lys van vereiste dokumentasie het geen melding van die taalvoorkeur gemaak nie. Dit is dus ook uiters diskriminerend om ’n graadsertifikaat wat in een van die land se amptelike tale is, te weier en van ’n student te verwag om aanvullende uitgawes aan te gaan om dit te laat vertaal. ’n Dringende skrywe deur sy regsverteenwoordiger van Hurter Spies Ingelyf aan die raad het geen resultate opgelewer nie en ’n semi-dringende aansoek is nou teen die raad ingedien.

AfriForum staan Genis by in die saak. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit onaanvaarbaar dat enige student se toekoms op die spel geplaas word omdat ’n amptelike instelling weier om een van die land se amptelike landstale te erken. “Hierdie besluit raak elke student wat al ’n kwalifikasie aan ’n Afrikaanstalige instelling behaal het, of nog gaan behaal, daarom moet sterk aksie geneem word teen hierdie burokratiese minagting en diskriminasie waaraan mnr. Genis onderwerp word. Ons vertrou dat die saak spoedig afgehandel sal word, sodat hy sy loopbaan kan voortsit en ander instellings afgeskrik kan word daarvan om applikante se taalregte te skend,” het Bailey gesê.

Enige ander persoon wat soortgelyke diskriminasie ervaar, is welkom om AfriForum te nader by navrae@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings