|

AfriForum, Solidariteit en SOS verwelkom taktiese deurbraak oor BELA

’n Taktiese deurbraak is vanoggend gemaak in AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se stryd téén twee gewraakte artikels in die Wet op Basiese Onderwyswette wat pas deur president Cyril Ramaphosa onderteken is. In wat dié organisasies as ’n wen vir Afrikaanse gemeenskappe ag, het Ramaphosa besluit om artikels 4 en 5 van dié wet oop te maak vir verdere gesprekvoering en derhalwe nie dadelik te implementeer nie. Dit dien as ’n bewys dat openbare druk sukses kán behaal.

Die president se aankondiging in dié verband volg ná AfriForum en Solidariteit gister (Donderdag) in gesprek met die president was en die versoek aan hom gerig het dat hierdie gewraakte artikels nie geïmplementeer moet word nie. Hierdie artikels bepaal dat die hoof van die provinsiale Onderwysdepartement die finale sê sal hê oor skole se toelatings- en taalbeleide. ’n Staatsamptenaar sal dus ’n beheerliggaam kan veto en onder meer die demografie van die groter onderwysdistrik in die toepassing van dié betrokke artikels in ag neem.

Verder verwelkom die organisasies dat die president sy voorneme vanoggend aan hulle bekend gemaak het.

“Aangesien die gevaar wat die wet inhou, nie nou volledig afgeweer is nie, skep dit ruimte vir verdere gesprekvoering. AfriForum, Solidariteit en die SOS se regspan staan steeds gereed om die saak in die howe te beveg sou hierdie gesprekvoering op niks uitloop nie. Ons standpunt bly dat daardie artikels van BELA vernietigende gevolge vir Afrikaanse skole en kinders sal inhou indien dit geïmplementeer word en AfriForum bly daarom gereed om dit op alle moontlike nasionale en internasionale platforms teen te staan,” sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum. 

Sou dit wel geïmplementeer word, sal dit ’n daad van aggressie teen die Afrikaanse gemeenskap wees wat nie net die 1994-skikking nie, maar ook die gees van die regering van nasionale eenheid verbreek.

“Verdere steunwerwing en druk begin nou eers. Indien daar nie veranderings is nie, gaan ons steeds voort met ons hofaksie. Ons gaan die druk volhou. Ons geveg is nie teen ’n wet nie, maar vir die toekoms van ons skole en ons kinders,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Ons skole is instellings waaraan ons gemeenskap emosioneel verbind is; dis nie net plekke waar kennisoordrag en vaardigheidsontwikkeling plaasvind nie. Dit is kulturele ruimtes waar waardeoordrag plaasvind aan ons kinders en volgende geslagte. Die staat kan nie Afrikaanse skole kaap, terwyl hulle nie hul verpligting nakom om genoeg skole te bou nie,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. Die president het aangekondig dat gesprekvoering in die volgende drie maande oor dié artikels sal plaasvind. AfriForum, Solidariteit en die SOS sien uit na die geleentheid om daaraan deel te neem en moedig die publiek aan om steeds ons veldtogte daarteen te ondersteun.

(Foto: Flickr, GovernmentZA)

Soortgelyke plasings