|

AfriForum, Afrikaans en die Afrikaanse Taalraad

Deur Alana Bailey

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is op 24 Mei 2008 gestig om Afrikaans en die belange van alle Afrikaanssprekendes te bevorder. Dit fokus veral op vier terreine, naamlik:

  • Afrikaans as familietaal en onderrigtaal op skoolvlak;
  • Afrikaans as taal van tersiêre onderwys;
  • Afrikaans op beleidsvlak; en
  • Versoening en alliansiebou.

Dit was my voorreg om twaalf jaar gelede die stigtingsvergadering in Wellington namens AfriForum by te woon. Vanaf dié datum tot 2017 was ek ook ’n direkteur van die organisasie. Ná ’n rustydperk van drie jaar, soos deur die ATR se regulasies bepaal, is ek pas weer tot die direksie herkies.

Die ATR bestaan uit meer as 20 lidorganisasies en verteenwoordig die breë Afrikaanse gemeenskap. Met soveel uiteenlopende lede, stem almal vanselfsprekend nie oor alle taalkwessies saam nie, maar dit bied ’n veilige platform waar uiteenlopende standpunte deeglik bespreek kan word om begrip en respek vir mekaar te kweek. Sodoende kan diegene wat betrokke is, tog saamwerk tot die voordeel van almal wat Afrikaans liefhet.

Verder is dit ook as sambreelinstelling uitnemend gerat om skakeling met nasionale en internasionale taaldeskundiges en ander taalgemeenskappe te fasiliteer. In ’n tyd waar die voortbestaan van Afrikaans as hoëfunksietaal onder groot druk verkeer, is hierdie kontak goud werd.

Vir AfriForum is die beskerming van Afrikaans as primêre onderrigtaal en die bevordering daarvan in die formele sektor prioriteite. Die uitdaging om moedertaalonderrig te beskerm, is nie net te wyte aan die druk van owerhede wat die taal en haar sprekers vyandig gesind is nie, maar ook aan ouers wat weens globalisering glo dat hulle hulle kinders van so vroeg as moontlik aan Engelse onderrig moet blootstel om te verseker dat hulle sukses sal behaal. Nie alleen hou dit negatiewe gevolge vir jongmense se akademiese ontwikkeling in nie, maar benadeel ook hulle emosionele welstand. Ons staan dus nie net aksie van owerhede om verengelsing af te dwing, teen nie, maar rus ouers en studente met kennis toe om vir so lank as moontlik moedertaalonderrig te kies.

Taalhofsake is een van die aksies wat mense met AfriForum assosieer, maar ons werk op die taalterrein behels soveel meer. Ons steun byvoorbeeld Afrikaanse redenaarskompetisies, spelkompetisies, kreatiewe skryfwerk, studentesimposia, publikasies en vele ander aksies waardeur die taal lewenskragtig gehou word. Dit sluit ons betrokkenheid by Dink of Sink, ’n nasionale onvoorbereide debatskompetisie, in. AfriForum Sakenetwerk bied gratis bemarkingsgeleenthede, opleiding en erkenning aan 16 000 Afrikaanse besighede.

Deur internasionale skakeling ondersoek ons beste praktyke vir die beskerming en bevordering van ons taal, en werk saam met ander taalgemeenskappe. ’n Hoogtepunt was dat ek genooi is om deel te neem aan ’n werksgroep-vergadering van die Verenigde Nasies se Afrika-Midde-Oosterse Forum vir Onderwys, Taal en die Menseregte van Minderhede in 2019. Dit was die eerste keer wat ’n vergadering van die groep plaasgevind het. Die aanwesiges het gewerk aan voorstelle vir wyses waarop menseregte in die onderrig van en deur minderheidstale gehandhaaf kan word. Die voorstelle is aan die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede vir verdere implementering en internasionale bewusmaking deurgegee en het uiteindelik in ’n VN verslag van 2020 neerslag gevind. Só kon Afrikaans en AfriForum ook ’n bydrae lewer ten bate van die internasionale taalgemeenskap.

Die toekoms van ons taal is in ons hande ‒ bevorder dit saam met ons met waardigheid en trots!

Alana Bailey is hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soortgelyke plasings