|

Nasionale Vervolgingsgesag laat slagoffer van padwoede in die steek – nóg ’n uitstel in aanrandingsaak

Die saak van ’n slagoffer van padwoede waarin AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag optree, is gister in die Hatfield-landdroshof uitgestel. Dit is die derde saak hierdie week waarby die eenheid betrokke is wat uitgestel is weens teleurstellende optrede deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die howe.

Matthews beweer hy het op 22 Oktober 2021 vir Botha by ’n vierrigtingstop in Waterkloof teëgekom waar Botha na bewering versuim het om te stop. Botha het na bewering vir Matthews begin jaag en ’n soliede sperstreep in die aankomende verkeer oorgesteek om Matthews van die pad af te dwing. Matthews sê Botha het sy voertuig van voor versper, sy oop venster genader en hom in die gesig geslaan. ’n Getuie, wat agter Matthews gery het, het ’n verklaring verskaf wat die gebeure bevestig het.


Matthews en sy ma het die eenheid genader nadat hulle onsuksesvol probeer het om die mees basiese besonderhede oor die saak by die aanklaer te bekom. Dit het geblyk dat die aanklaer die saak op bemiddeling met die beskuldigde wil rig, ten spyte daarvan dat dit nie die wil van die klaer is nie.

Ten spyte van die getuies wat gister in die hof teenwoordig was, het die aanklaer die privaatvervolgingseenheid meegedeel dat die getuies nie opgespoor kon word nie en daarom is hy gereed om die saak terug te trek.

Die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, vermoed dat daar ander redes is waarom die aanklaer bereid is om die saak terug te trek. “Dit het verder geblyk dat die aanklaer, wat glo voorheen die saak hanteer het, nie met die klaer of getuie gekonsulteer het nie. Hy was eenvoudig swak voorbereid. Dit is ondenkbaar dat die regte en belange van slagoffers van misdaad gehandhaaf en verdedig kan word as aanklaers nie bereid is om die harde werk en moeite in te sit nie.”

Die aanklaer het voorts die hof in kennis gestel dat die senior staatsaanklaer by die hof ’n bykomende klag van roekelose en nalatige bestuur daardie oggend by die klagstaat gevoeg het. Die byvoeging van die klag het eers gebeur nadat adv. Phyllis Vorster van die Privaatvervolgingseenheid die kwessie die oggend by die Senior Staatsaanklaer geopper het. Hierdie ontwikkeling spreek weereens van hoe swak sake deur die NVG bestuur word.

“Ons sal voortgaan om hierdie saak en al die ander sake waarin ons ’n waaksaamheidsopdrag het, te monitor. Sonder ons betrokkenheid sou hierdie saak, en baie ander, nooit vir verhoor op die rol geplaas geword het nie,” het Bateman bygevoeg.

Die hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, adv. Gerrie Nel, sê hy is geskok oor die aanklaer se optrede. “Na ons mening is dit onbetaamlik en onprofessioneel. ’n Klag van roekelose en nalatige bestuur is nie eers oorweeg nie, en sonder die toetreding van die Senior Aanklaer sou dit nie bygevoeg gewees het nie. Dit is kommerwekkend dat die aanklaer die saak wou terugtrek met die getuies teenwoordig. Ongelukkig het dit byna onmoontlik geword om geregtigheid in kriminele howe te kry sonder die hulp van ’n waaksaamheidsopdrag.”


Die saak is uitgestel tot 9 Maart 2023.

Soortgelyke plasings