|

AfriForum ondersteun Laerskool Mikro met halfeeufeesvieringe

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapse kantoor het op 12 Oktober saam met die Laerskool Mikro en 200 ander feesgangers hul 50ste verjaarsdag gevier.

Laerskool Mikro is een van die mees gesogte Afrikaans enkelmedium laerskole in die noordelike voorstede. Die skool se leuse “Waar kind, nog kind kan wees” is nie net woorde nie, maar word daagliks in dade omgesit wat tot die skool se sukses bydra.

“By AfriForum is dit vir ons belangrik dat gemeenskappe wat ’n positiewe verskil maak die ruimte moet hê om dit wel te kan doen. Ons glo dat Laerskool Mikro hierdie positiewe verskil vir die groter Kuilsrivier-gemeenskap is. Ons land se jongmense staar uitdagende tye in die gesig. Tog is onderwysers, ouers en steunpersoneel saam met die gemeenskap noodsaaklik en verantwoordelik vir hierdie leerders se toekoms,” sê Bernard Pieters, verbonde aan die Wes-Kaapse AfriForum-kantoor.

AfriForum het ook ʼn bottel wyn vir die aand geskenk wat tydens ’n gelukkige trekking deur Jano Roux gewen is.

Die skoolgemeenskap het hierdie skool vernoem na C.H. Kühn (Mikro), in lewe ’n inwoner van Kuilsrivier wat meer as 100 jeugverhale neergepen het. Sy bydra tot die Afrikaanse jeugliteratuur en liefde vir sy moedertaal leef steeds voort. Veral nadat die skool in 2005 ’n reusehofoorwinning behaal het om leerders se reg tot moedertaal onderrig te verseker.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak, of -buurtwag betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos aan afriforum@afriforum.co.za of SMS: “Kaapstad-Noord ” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings