|

AfriForum Brandweer help om huisbrand in 20 minute te blus

AfriForum se brandweerdiens in Bloemfontein het Vrydagoggend gehelp om ’n huisbrand in Langenhovenpark te blus, nadat die voorval ongeveer 08:40 op ’n plaaslike noodgroep op WhatsApp aangemeld is. AfriForum Brandweer, in samewerking met die Mangaung-brandweer, het die brand binne 20 minute in bedwang gebring.

Die inwoners van die huis – twee volwassenes en twee kinders – kon betyds ontsnap en het geen beserings opgedoen nie. Privaat ambulansdienste was wel op die toneel en het hulle ondersoek.

Volgens FireOps, wat saam met AfriForum Brandweer werk, was die binnekant van die huis heeltemal in vlamme verswelg. Die oorsaak van die brand is onbekend en word verder ondersoek.

“AfriForum Brandweer se vinnige reaksie, in samewerking met sleutelrolspelers en plaaslike buurtwagte, is ’n bewys dat die gemeenskap en verskeie entiteite kan handevat om ’n veiliger omgewing te skep. Danksy dié vinnige reaksie is geen ernstige beserings opgedoen nie en kon die brand spoedig geblus word,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Sedert AfriForum Brandweer se bestaan van begin Junie het dié brandweerdiens al 18 verskillende brande in Bloemfontein help blus, waaronder die onlangse brand by die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein.

Sluit aan by jou plaaslike AfriForum-buurtwag: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings