|

AfriForum se Lichtenburg-tak en Tacet Transport verbeter padveiligheid in Retiefspark

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het in September in samewerking met Tacet Transport (Edms.) Bpk. ’n groot veiligheids-en-gesondheidsrisiko in dié dorp hok geslaan deur tien spoedhobbels in Dr. Beyers Nauderylaan aan te bring. Dié rylaan is nie geteer nie en die swaar voertuie wat die pad gebruik, veroorsaak baie stof.

AfriForum het R10 000 tot dié projek bygedra en ook ’n ooreenkoms met die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit aangegaan sodat die veranderings aan die pad volgens wet geskied. Die vasberadenheid van die gemeenskap het egter die wa deur die drif getrek, want die totale koste het meer as R100 000 beloop – en die meeste fondse is deur die gemeenskap bygedra.

“Die groot hoeveelhede stof wat weens die gebruik van die pad opgejaag word, het ernstige gesondheidsprobleme vir die inwoners van die omgewing veroorsaak. Die CVO Skool Lichtenburg is ook naby aan die pad geleë, wat ons baie bekommer het,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons het die probleem met die hulp van die gemeenskap geïdentifiseer en besluit om met Tacet saam te werk om die probleem op te los. AfriForum staan gereed om die gemeenskap te ondersteun en te probeer verseker dat mense se lewensgehalte nie weens munisipale verval verswak nie,” sê Stefan Niemand, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

“Ons wil die gemeenskap graag bedank vir elke bydrae wat dié projek moontlik gemaak het. Ons wil ook gemeenskapslede en ondernemings aanmoedig om by die tak betrokke te raak om nog soortgelyk projekte aan te pak,” sluit Coetzee af.

Word vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak: SMS “Lichtenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings