AfriForum-buurtwag skerp veiligheid in Oos-Moot op

AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het op 15 Julie 2019 in samewerking met die Tshwane-metro, ’n plaaslike raadslid en die gemeenskap 12 spreiligte in Pieter Humanpark geïnstalleer om veiligheid in die omliggende gebied op te skerp. Dít volg nadat ’n inwoner die buurtwag gekontak het met die behoefte om die park te verlig sodat misdadigers nie ongesiens en vrylik in die gebied kan rondbeweeg nie. AfriForum en die gemeenskap het die ligte geborg, waarna die Tshwane-metro dit geïnstalleer het.

Barend du Plessis, ’n inwoner wat naby Pieter Humanpark woon, sê inwoners moet self verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. “As elkeen self begin aksie neem vir die omgewing rondom hom en veiligheid opskerp, kan ons al die parke en spruite in die area skoon, netjies en veilig hou. ’n Gemeenskap wat saamwerk, maak ’n verskil.”

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, is hierdie ’n goeie voorbeeld van die sukses wat bereik kan word indien die munisipaliteit en gemeenskap saamwerk. “Dit is vir ons as organisasie lekker om te sien dat die samewerking tussen die gemeenskap en die munisipaliteit vrugte afwerp. AfriForum wil graag saam met ander rolspelers werk om ’n positiewe verskil te maak en die inwoners in die stad se veiligheid opskerp.”

Gideon van Deventer, operasionele en veiligheidskoördineerder van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, sê dat hy die samewerking met die munisipaliteit hoog op prys stel. “Ons hoop om weer in die toekoms saam te kan werk om nog ’n groter verskil in mense se lewens te maak. Ons sal ook die verhouding met die metro wil versterk sodat ons nog soortgelyke aksies saam met hulle kan aanpak.”

Van Deventer voeg by dat hierdie slegs die eerste stap is van ’n groter plan waarmee die buurtwag besig is. “Ons is besig om die bosse by al die parkies en spruite oop te sny en ligte te installeer. Die onverligte dele skep te veel wegkruipplek vir kriminele. Ons nooi ook graag al die inwoners uit om snags saam met ons aan sigbaarheidspatrollies deel te neem sodat ons kan verseker dat ons omgewing veilig is.”

Sluit vandag nog by AfriForum aan en wees deel van die verskil: SMS jou naam na 45341 (R1) of stuur ’n e-pos na oosmootbuurtwagaf@gmail.com.

Soortgelyke plasings