AfriForum dien aansoek teen departement van onderwys in KZN in oor Nkandla-skool


Die burgerregte-organisasie AfriForum is sedert die begin van die jaar besig om die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla met regshulp by te staan in hul stryd om ’n hoërskool vir die gemeenskap gebou te kry – ’n skool waarop die gemeenskap al langer as 20 jaar wag.
Ná opeenvolgende besoeke aan en konsultasies met die Nkungumathe-gemeenskap is ’n aansoek uitgereik waarin daar onder meer die volgende versoek word:
• dat die Khuba Secondary School dadelik gebou word;
• dat die standaard van onderrig wat tans in die Nkandla-streek gelewer word, teenstryding met artikel 29 (1) van die Grondwet verklaar word;
• dat remediërende stappe gevolg word om die onderwyskrisis die hoof te bied (insluitend dat alle leerders onverwyld van handboeke voorsien word);
• dat daar gereelde verslag aan die hof gelewer word oor die vordering van die bogenoemde stappe; en
• dat voldoende onderwysers aangestel word.
In 1996 het die gemeenskap aansoek gedoen dat ’n hoërskool ter plaatse gebou word. Dié aansoek is goedgekeur, waarna die Khuba Secondary School reeds in 2007 geregistreer is en ’n EMIS- (Education Management Information System-) nommer ontvang het. Sedertdien het die onderwysdepartement die gemeenskap probeer paai met leë beloftes dat die skool wel opgerig gaan word. Eers toe AfriForum in 2017 navraag oor die vordering daarmee gedoen het, het die onderwysdepartement geantwoord dat hulle afstand doen van die twintigjaarlange belofte aan die gemeenskap en dat die skool nie meer gebou gaan word nie.

“Die standaard van onderrig wat in artikel 29(1) van die Grondwet vereis word, word allermins gehandhaaf. In heelwat klasse is die onderwyser-tot-leerder-verhouding 1:85 tot selfs 1:121. Verder is daar in die meeste gevalle ’n enkele handboek tussen tien leerders, terwyl die meeste leerders tydens klastyd op die grond moet sit,” sê Carien Bloem, projekkoӧrdineerder van onderwys by AfriForum.
“Ons het geen ander keuse as om regstappe teen die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement te neem nie. Die toestande waaronder die leerders onderrig by hierdie skool ontvang en die gehalte van die onderrig laat veel te wense oor. Tydens ons besoeke het ons vasgestel dat leerders soms twee tot drie uur lank na die naaste skool toe en terug moet stap. Leerders moet elke dag deur ’n veld stap waar hulle dikwels giftige slange teëkom, deur ’n rivier loop wat hulle in reëntye soms meesleur én oor ’n rivierbank klim om by die skool uit te kom,” sê Bloem.
“Die Khuba Secondary School sal die meeste van die uitdagings verlig wat tans rondom onderrig ervaar word en aan leerders die geleentheid bied om gehalte-onderrig op ’n waardige wyse te ontvang,” voeg Bloem by. “In die lig van Suid-Afrika se rekordhoogte van jeugwerkloosheid (67,4% vir jongmense onder 25 in die tweede kwartaal van 2017) is dit onaanvaarbaar dat jongmense op dié wyse deur ’n onderwysdepartement in die steek gelaat word met feitlik geen kans op toegang tot ’n volhoubare professionele loopbaan nie. Dit werp nie net ’n skadu oor dié leerders se toekoms nie, maar oor van die land as geheel.”

• Sien ook foto’s van AfriForum se besoek aan die Nkungumathe-gemeenskap en ’n video deur Forum Nuus by https://forumnuus.co.za/afriforum-reik-uit-na-nkandla-gemeenskap.

Soortgelyke plasings