AfriForum-teenboeliegids by Laerskool Swartkop bekend gestel


AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 25 Mei 2018 besoek by Laerskool Swartkop in Centurion afgelê om dié burgerregte-organisasie se teenboeliegids bekend te stel. Die teenboelieveldtog skep bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met alle rolspelers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Hierdie teenboeliegids sal help om ouers, onderwysers en leerders te lei om gevalle van afknouery op die korrekte wyse te hanteer. Ons hoop dat hulle hierdie praktiese gids sal gebruik om ’n verskil in die groter gemeenskap te maak. Bekendes soos Donnalee Roberts, Ivan Botha en Chris Chameleon vertel in die gids van hul eie ervarings van afknouery. Roberts en Botha het ook die bekendstellingsgeleentheid bygewoon,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Dit is ’n groot voorreg om deel van AfriForum se teenboelieveldtog te wees. Dit is iets wat ons na aan die hart lê en ons glo dat hierdie veldtog die harte van baie kinders, onderwysers en ouers sal raak,” meen Roberts en Botha.
“Die teenboeliegids is ’n noodsaaklike hulpmiddel vir onderwysers, leerders en ouers om afknouery hok te slaan deur sowel die boelie as die slagoffer by te staan,” beaam Marius Walkenshaw, adjunkhoof van Laerskool Swartkop.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings