AfriForum dring aan op sperdatum vir regering se rassediskriminerende beleide

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag kommentaar by die Departement van Indiensneming en Arbeid ingedien aangaande konsepregulasies oor die voorgestelde sektorale numeriese rasteikens. Die departement het in Februarie die nuwe konsepregulasies gepubliseer ná sterk teenkanting teen minister Thulas Nxesi se spesifieke rasteikens vir elke bedryf en provinsie. Die publiek het tot 2 Mei om kommentaar te lewer op die nuwe konsepregulasies oor die voorgestelde sektorale numeriese rasteikens.

AfriForum het in sy kommentaar oor die nuwe konsepregulasies voorgestel dat ’n sperdatum vasgemaak gemaak word vir die beëindiging van rassediskriminerende wetgewing, wat in ooreenstemming is met die “tydelike aard” van regstellendeaksiebeleide, soos bepaal deur die Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998.

“Sonder ’n vasgestelde einddatum vir rassediskriminerende wetgewing word die bose kringloop van regeringsmislukkings en die aandrang vir meer rassediskriminerende beleide voortgesit. Ná meer as 100 jaar van rassediskriminerende beleide, wat tot in die 21ste eeu voortduur, is dit tyd vir die afskaffing van hierdie afskuwelike praktyk,” sê Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum.

AfriForum voer verder in sy kommentaar aan dat rassediskriminerende wetgewing deur die regering in die algemeen en in alle fasette van die samelewing geskrap moet word, insluitend indiensneming, sport en onderwys.

“Die regering se beheptheid met gelyke uitkomste eerder as gelyke geleenthede het ’n toenemend rasbehepte omgewing geskep. Suid-Afrika kan homself nie ’n nie-rassige land noem as sy regering voortgaan om te beywer vir verskerpte rassediskriminerende wetgewing nie,” sê Van Zyl.

“Weens sy magdom rassewette kwalifiseer Suid-Afrika beslis as een van die mees rasbehepte lande ter wêreld,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings