|

Groblersdal-tak woeker weer

Die AfriForum-tak in Groblersdal het op 7 Oktober by die plaaslike gholfklub vergader om ’n bestuur te verkies. Hendrik Kotze en Coenie Meyer het ingestem om as bestuurslede te dien. Die res van die bestuur sal binnekort bekendgemaak word en ’n geleentheid om die bestuur te ontmoet sal daarna gereël word.

Volgens Kotze sal dié tak vir nou slegs op die instandhouding en opknapping van die dorp fokus. Die tak wil graag by projekte by skole en selfdoenaksies betrokke raak en inspring waar die munisipaliteit faal.

“Gemeenskappe is toenemend onder druk omdat die munisipaliteite nie sy verpligtinge nakom nie veral wanneer dit by swak dienslewering, onveilige woonbuurte en besoedelde areas kom, daarom sal AfriForum se Groblersdal-tak hier ingryp,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

Reeds sedert 2017 tot 2022 het die Groblersdal-tak die dorp se drink- en rioolwater getoets, en dit is kommerwekkend dat die drinkwater nie veilig vir menslike gebruik is nie.

“Die tak gaan die watergehalte egter deurlopend evalueer om die grondwetlike regte van die dorp se inwoners te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Jansen Van Vuuren.

AfriForum doen ook jaarliks ’n nasionale vullistereinoudit. Dit behels die oudit van vullisterreine in elke dorp na aanleiding van ’n vraelys oor die minimumvereistes waaraan vullisterreine moet voldoen.

Vanaf 2017 slaag Groblersdal se munisipale vullisterrein hierdie oudit jaarliks met minimumvereistes.

“Ons wil deur hierdie veldtog verseker dat die regering sy plig ten opsigte van wetgewing en regulasies nakom. Terselfdertyd wil ons gemeenskappe aanmoedig om deur selfdoenaksies self deel van die oplossing te word,” sê Jansen van Vuuren.

Die Groblersdal-tak moedig die gemeenskap aan om by die projekte betrokke te raak en ’n verskil in Groblersdal te maak. Vir meer inligting kontak Hendrik Kotze by 073 184 6683, Coenie Meyer by 072 289 5970, of Magdel Jansen van Vuuren by 081 216 9570.

Raak vandag nog by AfriForum se tak in Groblersdal betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings