|

Bothaville-tak en ander plavei kruising en herstel R59 vir #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Bothaville het in samewerking met die Nala Plaaslike Munisipaliteit die kruising in Presidentstraat geplavei. Die tak het die helfte, waarvoor hulle die stene aangekoop het, reeds in Maart 2023 voltooi. Die munisipaliteit het egter gewag vir die nuwe finansiёle jaar om hulle deel van die stene te koop. Dit is uiteindelik gedoen en die kruising is verlede week deur AfriForum se span voltooi.

Die boere wat langs die R59 vanaf Bothaville na Leeudoringstad bly, het 4 ton teer aangekoop en die AfriForum-tak genader om die 14 km tot by die brug wat oor die Vaalrivier loop namens hulle te herstel. Die tak het dit op 3 en 4 Oktober gedoen en ongeveer 40 slaggate gevul.

Willie Prinsloo, voorsitter van AfriForum se Bothaville-tak moedig die gemeenskap aan om by dié tak betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak.

“Hierdie projekte bewys weereens dat iets positief gebeur wanneer daar hande gevat word.  Baie dankie aan almal wat saamgewerk het om hierdie moontlik te maak. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak vir Prinsloo by 083 306 5732 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings