|

AfriForum eis antwoorde oor 13 jaar lange gesloer in herstel van Pretoria-landdroshof

AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien by die Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, sowel as by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur. Dié aansoek hou verband met die herstel van die Pretoria-landdroshof wat in Oktober 2010 in puin gelê is nadat ’n brand in ’n gedeelte van dié historiese gebou uitgebreek het.

In dié aansoeke eis AfriForum nou volledige inligting oor die verwoestende brand en die onderskeie departemente se betrokkenheid by die herstel van dié gebou. Ten spyte daarvan dat ’n tender vir die herstel van die hof al toegeken is en herstelwerk ingevolge die tenderooreenkoms reeds in Februarie 2015 moes begin, is geen herstel- of opknappingswerk tot dusver gedoen nie.

Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, is die prosedures in die toekenning van die tender nagekom, maar die feit dat die afhandeling van herstelwerk reeds soveel jare lank al sloer, wek ernstige kommer.

Mostert hou vol dat die voortdurende vertragings om die hof te herstel beteken dat meer as ’n dekade se verdere verval van die gebou, jare se diefstal, vandalisme en verwaarlosing ook nou herstel sal moet word. Intussen is noodsaaklike loodgieter- en elektriese stelsels moontlik ook teen dié tyd disfunksioneel. Die regering se onvermoë om hierdie kwessie behoorlik te takel, is onaanvaarbaar. Daarom is dit van uiterste belang om die onderliggende faktore wat tot hierdie vertragings bydra, bloot te lê.

AfriForum versoek alle korrespondensie van beide departemente, insluitend memorandums, e-posse, en ander kommunikasie rakende die vordering van die opknapping en enige probleme wat dit affekteer. Impakbeoordelings oor hoe die vertragings die hof se funksionaliteit beïnvloed het, lewensvatbaarheidsplanne en planne vir die uitvoering daarvan, enige klagtes of regsaksies wat verband hou met die vertragings, besonderhede van alle tenderprosesse, projekplanne en skedules (insluitend veranderinge oor die jare), finansiële rekords soos begrotingstoekennings, uitgawes en oudits, inspeksies of beoordelings van die gebou ná die brand, en rekords van kommunikasie met kontrakteurs en subkontrakteurs wat betrokke is by die opknappingsprojek. Hierdie omvattende versoeke se doel is om lig te werp op die redes vir die vertraging in die herstel en opknapping van die hof.

“Ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) word dié hof, wat in 1942 gebou is, geag as ’n erfenisbaken van historiese belang. Die gebrek aan optrede tot dusver om dié historiese gebou te herstel, is heeltemal onaanvaarbaar en toon tekens van korrupsie,” sluit Mostert af. Die onwilligheid van die Suid-Afrikaanse regering om te verseker dat die landdroshof behoorlik herstel word, beklemtoon verder hoe verwaarlosing van infrastruktuur toegeneem het onder bewind van die ANC-regering.

(Fotobron: https://www.xtentia.co.za/portfolio/pretoria-magistrate-court/)

Soortgelyke plasings