Water
|

AfriForum waarsku regeringsfere en howe al jare oor waterkwaliteit

Die burgerregteorganisasie AfriForum is nie verbaas oor die huidige cholera-uitbreking in Gauteng en die Vrystaat nie. Dié organisasie is al etlike jare besig met verskeie hofaansoeke en strategieë oor die kwaliteit van water in die land en die gebrekkige rioolstelsel wat daartoe bydra.

AfriForum het al drie verskillende hofaansoeke in Parys gedryf omdat die water ongeskik is vir menslike gebruik. Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die munisipaliteit is dus die afgelope drie jaar reeds bewus van hierdie kwessie, maar is nie bereid om dit op te los nie. Die DWS het in samewerking met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) in hierdie dorp toegetree, maar is onwillig om die probleem te takel. Dít nadat AfriForum al in 2020 ’n werkbare plan verskaf het om die waterwerke weer op standaard te kry.

Hammanskraal naby Pretoria gaan nou gebuk onder ’n cholera-uitbreking. AfriForum dryf al sedert 2011 ’n hofsaak teen die Tshwane-metro omdat die Rooiwal-rioolwerke grotendeels wanfunksioneel is en die Apiesrivier besoedel. Dié rivier vloei verby die Temba-watersuiweringsaanleg, wat die Hammanskraal-gemeenskap van water voorsien.

“Die groot probleem is die DWS se onvermoë om op te tree. Hulle is van mening dat die munisipaliteit nog ’n kans gegun moet word of dat Cogta verantwoordelikheid moet aanvaar. Ongelukkig is die verskillende regeringsfere en departemente te bang om met mekaar te verskil,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

“Die DWS is ook nie konsekwent in sy optrede en besluitneming nie. Terwyl dié departement die een dorp se waterkrisis probeer oplos, wil hy ’n ander dorp se waterkrisis in die hof beveg. Dit is duidelik dat ’n politieke agenda daaragter skuil.”

Gemeenskapslede wat vermoed dat die water in hul betrokke dorp besmet is, word aangemoedig om AfriForum te kontak. AfriForum sal die nodige toetse doen om te verseker dat die water op standaard is.

“Ons was by een van die gemeenskapsvergaderings in Parys waar die munisipaliteit dit moet fasiliteer en terugvoer gee aan die verskeie gemeenskapsorganisasies. Die tegniese bestuurder kon geen antwoorde verskaf nie – hy het ook nie geweet waar sy personeel is wat die vergadering moes bywoon nie. Hy het ook erken dat die plan wat hulle nou in Parys implementeer die een is wat AfriForum drie jaar gelede beskikbaar gestel het,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings