|

AfriForum en Solidariteit sê #neevirkwotas in sport

“In die belang van alle atlete, kinders en landsburgers, gaan ons nie toelaat dat valse, politiesegedrewe beskuldigings ons stilmaak nie. Dit is tyd dat ons teen politieke-boelies opstaan wat onregverdige rasse-ideologieë in sport wil afdwing.”

Só het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, vandag gesê tydens ʼn gesamentlike mediakonferensie met die vakbond Solidariteit, waartydens die partye  omvattende veldtog teen rassekwotas in sport, maar ook in die werksplek, van stapel gestuur het. Dié veldtog sluit regstappe teen die minister van sport, Fikile Mbalula, se onlangse uitsprake oor kwotas in Suid-Afrikaanse sport in, wat ook vandag bekend gemaak is.

Mbalula het in April vanjaar gesê dat die vier hoofsportfederasies – Atletiek Suid-Afrika (ASA), die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika (KSA) en Netbal Suid-Afrika (NSA) – voortaan nie gasheer mag wees vir enige groot internasionale sporttoernooie in Suid-Afrika nie omdat hul nie hul transformasieteikens bereik het nie.

Die organisasies sal as deel van hulle regsaksie hulle tot die arbeidshof wend om die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se transformasieplan, asook die handves oor transformasie in sport waarin die staat se transformasieteikens vir sport uiteengesit word, ongeldig te laat verklaar. AfriForum en Solidariteit sal voorts klagtes teen sportkwotas by die Verenigde Nasies (VN), verskeie internasionale sportliggame en die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) indien. Dit sluit ook ʼn versoek vir ’n ondersoek na die teikens vir regstellende aksie van elke afsonderlike sportliggaam soos in hul onderskeie regstellendeaksieplanne uiteengesit is, in.

Kriel het tydens die konferensie verduidelik dat AfriForum en Solidariteit se klagtes by internasionale sportfederasies op twee sterk bene sal staan aangesien byna alle internasionale sportliggame se regulasies enige vorm van rassediskriminasie en regeringsinmenging in sport uitdruklik verbied.

“Hierdie verbod op rassediskriminasie en regeringsinmenging word ondubbelsinnig verwoord in die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se Olimpiese Handves, wat op die meeste sportsoorte van toepassing is, asook in die regulasies van onder meer die Internasionale Rugbyraad (IRR), die Internasionale Krieketraad (IKR) en die Internasionale Netbalfederasie (INF),” het Kriel gesê.

Hy het ook gesê dat die samewerking tussen AfriForum en Solidariteit belangrik is omdat die gevolg van die kwotasisteem nie net inbreuk op mense se waardigheid maak nie, maar ook atlete se werk beïnvloed. Kriel het voorts gesê dat dié gesamentlike veldtog ook ten doel het om die minister te dwing om op die kernprobleem te fokus, wat volgens Kriel ʼn swak en wanpresterende onderwysstelsel is.

“Ons glo dat alle Suid-Afrikaners, veral jong kinders, toegang en geleenthede moet hê om deel te neem aan sport. Die regering moet eerder daarop fokus om meer kinders bloot te stel aan sport vanaf skoolvlak, eerder as om kunsmatige rassekwotasisteem te gebruik om hul deelname te verseker.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kom die drastiese stappe deur minister Mbalula neer op niks anders as onbillike arbeidspraktyk nie.

“Die Wet op Diensbillikheid, asook die Wet op Sport en Ontspanning maak hoegenaamd nie daarvoor voorsiening dat die regering by die kies van spelers vir sportspanne inmeng nie. Dit is presies waarmee die minister nou besig is en ons as die burgerlike samelewing kan dit eenvoudig nie toelaat nie,” het Hermann gesê.

Hy het verder gesê dat deur te versuim om teen die minister op te staan, sportfederasies as sy lojale onderdane opgetree het.

Mark Fish, voormalige Suid-Afrikaanse sokkerheld en een van vele atlete wat AfriForum en Solidariteit se veldtog ondersteun, het aan Forum Nuus gesê dat dit belangrik is om op te staan teen die regering se politieke inmengery.

“Politikusse hoort nie in sport nie, soos wat sportmense nie in die politiek hoort nie. Dit is belangrik dat die beste spelers volgens meriete vir ons sportspanne gekies moet word, ongeag hul ras.”

Volgens Fish is dit ook belangrik dat skoolkinders van jongs af blootgestel moet word aan sport en dat hulle die geleentheid moet kry om verder daarin te groei en te ontwikkel.

Die publiek kan ook aan die veldtog deelneem en hul stemme laat tel deur die volgende webblad te besoek: www.neevirkwotas.co.za

Soortgelyke plasings