|

AfriForum gereed om NGV in die hof te beveg

AfriForum is gereed om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die hof te beveg. Pres. Cyril Ramaphosa het kort voor die verkiesing die NGV-wetgewing onderteken, maar daar moet nog baie water in die see vloei voor dit geïmplementeer kan word. Daar is al uit verskeie oorde gesê die grootste regstryd sedert 1994 gaan gevoer word om dié onbekostigbare en onuitvoerbare NGV te stuit.

“Daar is verskeie moontlike wyses waarop die NGV in die hof beveg kan word. ’n Nuwe koalisieregering kan ook met ’n parlementêre meerderheid die wet herroep. Indien die wet nie herroep word nie, bestaan die moontlikheid dat die nasionalisering van die finansiering vir die NGV nie geïmplementeer word nie en daar ook nie geld daarop spandeer word nie,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum.

“Daar is ook die derde opsie om die hof te nader om die wet in geheel of dele daarvan as ongrondwetlik te verklaar. AfriForum gaan hierdie opsie volg, maar hierdie benadering neem tyd.”

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

AfriForum se aanslag behels dat die regering gedagvaar word vir die skade wat die NGV aanrig. Deskundige getuies sal voor die hof geroep kan word en die grondwetlikheid en uitvoerbaarheid van die NGV sal breedvoerig getoets kan word.

In ’n sitkamergesprek oor die NGV het Arno Roodt, ’n prokureur by Hurter Spies Ing. en deel van AfriForum se regspan, gesê die NGV hou verskeie gevare vir Suid-Afrikaners in. “Die NGV het groot risiko’s vir belastingbetalers en persone wat tans van privaat mediese fondse gebruik maak. Daar is nie genoegsame politieke meganismes om die wetgewing bloot te lê nie en dit noodsaak siviele optrede,” sê hy.

Arno Roodt, ’n prokureur by Hurter Spies Ing. en deel van AfriForum se regspan

Adv. Albert Lamey het uitgewys dat die finansiële implikasies vir belastingbetalers astronomies kan wees indien die NGV wel ingestel word. “Navorsing toon dat die begroting wat vir die NGV uitgewerk is totaal onderskat is en is selfs misleidend aan die publiek oorgedra. Die begroting is met meer as R200 miljard onderskat. Die implikasie vir belastingbetalers is dat hulle soveel as 10% meer sal moet betaal om vir die NGV te betaal.”

Lamey noem voorts dat een van die groot struikelblokke vir die NGV die swak toestand van staatshospitale is wat jare lank al onder die ANC-regering verwaarloos is. Hulle voldoen nie eens aan huidige vereistes nie om nie eens te praat van die groter druk wat op die stelsel geplaas sal word as die NGV wel ingestel word nie.

Adv. Albert Lamey

’n Studie van Solidariteit toon dat verskeie medici beplan om die land te verlaat indien die NGV ingestel word. Lamey maan teen ’n grootskaalse eksodus van medici of ander mense voor die NGV wel ingestel is.

“Indien medici nou reeds in groot getalle die land sou verlaat, sal dit eintlik die implementering van die NGV dwing deurdat die regering ’n alternatiewe stelsel op die been sal móét bring. My raad is dus om eers vas te byt en jou hoop te plaas dat die howe die wetgewing of groot gedeeltes daarvan ongrondwetlik verklaar,” sê Lamey.

Solidariteit en die Raad van Gesondheidsfinansies het reeds aansoeke by die hof ingedien om die NGV te stuit. AfriForum sal ook hierdie aansoeke ondersteun. Ondersteun AfriForum se saak deur www.jougesondheid.co.za te besoek en kyk hier na die volledige sitkamergesprek.

Soortgelyke plasings