|

AfriForum-tak in Germiston betoog na moord op baba Chevonne

AfriForum se Germiston-tak het op 25 Mei vreedsaam buite die Landdroshof in Germiston betoog na die moord op Chevonne Rusch (2) vroeër die maand. Die beskuldigde, Stefan van Niekerk, het in die hof verskyn en die AfriForum-tak het saam met vele ander teen sy borgtogaansoek betoog.

“Dit is baie tragies om te verneem van die dood van Chevonne Rusch, wat slegs twee jaar oud was. AfriForum veroordeel hierdie tipe geweld wat op die mees kwesbare gemik is ten sterkste. Dit is belangrik dat gemeenskappe alles in hulle vermoë doen om hierdie tipe tragedies te vermy en dat hulle mekaar beskerm. ’n Vreedsame optog, soos uitgevoer deur AfriForum se Germiston-tak, is ’n goeie manier waarop gemeenskappe kan uitbeeld dat hulle hierdie tipe optrede nie gaan aanvaar nie en dat die maksimum vonnis opgelê moet word,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Hierdie tipe oortredings moet op die swaarste moontlike wyse gestraf word en ons hoop dat ons met die betoging bewusmaking kon kweek in terme van geweld teen vroue en kinders. Ons buurtwag was ook by die betoging om die SAPD by te staan om te verseker dat verrigtinge glad verloop,” sê Elize Hern, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Germiston-tak: SMS “Germiston” na 45340 (R1) of skakel vir Hern by 083 555 5790 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings