|

AfriForum help met 45 arrestasies in een aand op Delmas

Altesaam 45 arrestasies is op 5 Julie in ’n gesamentlike operasie tussen AfriForum se Delmas Valke-protospan en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer, waaronder ’n verdagte wat in besit was van geharde dwelms.

Tik (crystal meth) en Mandrax-tablette is in die verdagte se voertuig gevind. Hierdie sukses het tydens ’n padblokkade in Botleng plaasgevind, waartydens ’n aantal voertuie en persone deursoek is. Een van die persone wat deursoek is, het sy voertuig agtergelaat en te voet gevlug waarna AfriForum-protospanlede hom agternagesit en gevang het. Ná verdere ondersoek is daar op die dwelms in sy voertuig afgekom.

Dieselfde aand nog is daar ook twee gesteelde voertuie teruggevind, asook ’n voertuig wat gekaap is. Een van die voertuie is tydens die padblokkade teruggevind en een persoon is gearresteer. Die tweede voertuig is verlate by die Botleng-winkelsentrum gevind, terwyl die voertuig wat gekaap is sonder brandstof gaan staan het en verlate gevind is. Die slagoffer van die kaping is ook veilig met geringe beserings opgespoor.

Gedurende hierdie samewerking het AfriForum se Delmas Valke-protospan en die SAPD ook die N12 gepatrolleer om kapings en ysterpenlokvalle hok te slaan.

“Goeie samewerking met die SAPD is die sleutel tot sukses in die geveg teen misdaad. Ons sal aanhou om die gemeenskap te beskerm want ons is siek en sat vir die misdadigers wat ons woonbuurte onveilig maak,” sê Carel Botha, voorsitter van die AfriForum-tak op Delmas.

Inwoners word versoek om AfriForum in Delmas te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings