|

AfriForum het besige maand in Standerton agter die rug

AfriForum se Standerton-tak en -buurtwag het gewoeker in Augustus. Die buurtwag het  aan die weeklikse hoë sigbaarheidsparades in samewerking met Kasselman-sekuriteitsdienste en All Star Towing deelgeneem. Dié parades vind elke Vrydagoggend plaas en dien as ’n magsvertoning.

Op 10 Augustus het die buurtwag ’n brand by die begraafplaas geblus. Die brand is om 18:30 gerapporteer waarna die buurtwag spoedig gereageer het en teen 19:30 was die brand geblus. Die buurtwag het ook op verskeie motorongelukke gehelp.

“Ons buurtwag is slaggereed om die gemeenskap te help – ons sal nie terugstaan nie,” sê Shandre van den Heever, leier van AfriForum se Standerton-buurtwag.

Die AfriForum-tak in Standerton se slaggatprojek in samewerking met Northern Light Foundation, Hoërskool Standerton en Lekwa Plaaslike Munisipaliteit is ook in Augustus begin en is al sowat 50% voltooi. Vir dié projek het AfriForum, Northern Light Foundation en ander rolspelers teer ingesamel en aan die hoërskool geskenk om paaie om die skoolterrein te herstel. Die Lekwa-munisipaliteit verrig die arbeid.

Dié tak is ook besig om ’n vloer uit sement te bou vir die brandweer se waghuis. Die sement is reeds gegooi en die vloer sal teen einde September voltooi wees. Die AfriForum-tak het ook ’n stopteken by die gevaarlike kruising van Baumann- en Bergstraat opgerig. Daar was onlangs ’n motorongeluk by dié kruising omdat daar aanvanklik geen stopteken was nie.

Verder het die tak op 31 Augustus ’n skoonmaakaksie in samewerking met die VF Plus, Kasselman-sekuriteitsdienste, Lekwa Cleanup Crew en gemeenskapslede by die Standerton Rivierpark begin. Tydens die projek is altesaam 89 sakke vullis verwyder. Die lede gaan eersdaags nog skoonmaakprojekte van stapel stuur en bome snoei. Langtermynplanne is om hierdie projek uit te brei.

“Gesamentlike aksies soos dié is belangrik vir ons gemeenskap. Ons sal self maar nie alleen nie,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Inwoners word versoek om AfriForum in Standerton te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings