|

AfriForum eis antwoorde by Ekurhuleni Metro oor gebrek aan dienslewering in Oos-Rand

AfriForum het op 8 November ’n skrywe aan die Ekurhuleni Metro gestuur om antwoorde te eis oor die haglike omstandighede by die oorlaaistasies en die tekort aan vullisverwydering in die Oos-Randse dorpe.

Daar is verneem dat die diensverskaffers wat aangestel is om hierdie noodsaaklike dienste aan die gemeenskappe in die Oos-Rand te lewer nie betaal is vir hul dienste nie en het daarom onttrek. Die magstruweling wat heers tussen partye om beheer oor die Ekurhuleni Metro te bekom regverdig nie die verlies en tekort aan dienslewering nie.

“Die huidige situasie is in veral dorpe soos Kempton Park en Springs ’n groot rede tot kommer aangesien die gemeenskappe weet dat die metro nie van plan is om die hul foute reg te stel nie,” sê Dewet Ungerer, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum gaan alle moontlike pogings aanwend om in gesprek te tree met die Ekurhuleni Metro om te verseker dat ander alternatiewe ondersoek word om die Ekurhuleni Metro by hul ooreenkoms te hou en te verseker dat die diensverskaffers betaal word sodat die getroue belastingbetalers van die Ekurhuleni Metro hul nodige dienste kry.

“Dit is onregverdig om inwoners wat getrou hulle munisipale rekeninge betaal te straf as gevolg van die Ekurhuleni Metro se onvermoë om hulle betalingsooreenkomste na te kom,” sluit Ungerer af.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur ’n e-pos te stuur na gemeenskapsake.navrae@afriforum.co.za

Soortgelyke plasings