|

AfriForum sien in haas met BELA-wetsontwerp dat onderwysbelange irrelevant vir ANC is

Die hantering van vanoggend se vergadering van die parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het weer eens aan AfriForum bewys dat haas om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) deur alle prosesse te stoomroller van veel groter belang vir die ANC en EFF is, as om die inhoud daarvan te beredeneer en ernstig te oorweeg. In die proses word die belange van gehalte onderwys deurlopend ondergeskik aan politieke belange gestel.

Tydens die vergadering is besware van ander partye geïgnoreer, doodgeskreeu of selfs die verwydering van sprekers geëis. Die voorsitter het tyd om besware oor die proses en wetsontwerp se hersiene inhoud te lug, tot enkele minute beperk. Oplaas het die IVP buite stemming gebly weens ontevredenheid met die tydsdruk, terwyl die DA, ACDP en VF+ besware gelug het. Die wetsontwerp sal môre (16 Mei) voor die Nasionale Vergadering dien. Indien dit dan ook aanvaar word, sal dit aan die president vir ondertekening voorgelê word.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beklemtoon dat AfriForum hou by die voorneme om die BELA-wetsontwerp nasionaal en indien nodig, ook internasionaal met regsaksie teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte onderrig inhou. “’n Komiteelid het vanoggend verklaar dat hulle moeg is om met howe gedreig te word, maar die publiek is moeg daarvoor om geïgnoreer te word en met swak, skadelike en selfs gevaarlike wetgewing gekonfronteer te word wat ons burgerregte minag,” sê sy.

Konsepregstukke is reeds gereed in dié verband. Verdere aankondigings van AfriForum sal deurlopend volg in dié verband. Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum se regsaksies gee by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings