AfriForum Jeug sal Afrikaanse sokkies by Maties voortsit


AfriForum Jeug verwerp die anti-Afrikaanse beweging wat tans besig is om dié taal by die Universiteit Stellenbosch (Maties) te versmoor. Om hierdie rede gaan dié jeugorganisasie se Maties-tak in die komende paar weke ’n Afrikaanse sokkie in Stellenbosch reël. Dié aankondiging kom nadat dit bekend geword het dat studente en jongmense deur die universiteit verbied is om in Afrikaans te sokkie.

“ʼn Sokkie is ’n geleentheid waar jongmense die studentelewe kan geniet, maar selfs dít word nou bedreig deur die anti-Afrikaanse golf wat tans oor die land se universiteitskampusse spoel. Sokkies word verpolitiseer en gedemoniseer en dít in die naam van transformasie, inklusiwiteit en linkse politiese korrektheid,” sê Roderick Leonard, voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak.

Volgens Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, is daar ’n duidelik aanslag op Afrikaans en op ’n gesonde studentelewe op talle tersiêre instellings in Suid-Afrika.

“As jeugorganisasie sal ons nie bystaan en toekyk hoe Afrikaans gedemoniseer word nie. Dit is verregaande om só ver te gaan as om selfs Afrikaanse liedjies by jongmense se samekomste te verbied,” sê Maree.

Die studentegemeenskap en jongmense van Stellenbosch en omliggende gebiede word aangemoedig om AfriForum Jeug op sosiale media dop te hou; die inligting rondom AfriForum Jeug se komende Afrikaanse sokkie sal dáár geplaas word.

Soortgelyke plasings