Hofuitspraak gelewer teen Jacob Zuma en SA-regering vir hul rol in die sluiting van die SAOG-tribunaal


Die Pretoriase hooggeregshof het vandag uitspraak gelewer in die uitgerekte hofaansoek teen die voormalige Suid-Afrikaanse president, Jacob Zuma, en sy regering vir hul rol in die sluiting van die streeks- menseregtehof, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG-) tribunaal in 2012.
Die aansoek is in April 2015 deur die Prokureursorde van Suid-Afrika gebring om die optrede van oudpres. Zuma, asook dié van die minister van justisie, Michael Masutha, en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, ongrondwetlik te verklaar met betrekking tot die SAOG 2014-protokol.
Die burgerregtewaghond AfriForum het vier Zimbabwiese boere en twee landboumaatskappye suksesvol gehelp om tot hierdie saak toe te tree. Die boere het hul eiendomme as deel van Zimbabwe se grondhervormingsbeleid verloor. Hulle het die SAOG-tribunaal in 2008 suksesvol genader om hul eiendomsreg te beskerm, maar die tribunaal is eers opgeskort en toe daar gelaat om uiteindelik heeltemal tot niet te gaan.
Die hof het bevind dat die voormalige president se deelname aan die proses om die SAOG-tribunaal te ontbind, onwettig, irrasioneel en dus ongrondwetlik was. Die president moet ook die regskoste van al die aansoekers dra.

In reaksie op vandag se uitspraak het Willie Spies (AfriForum se regsverteenwoordiger) sy tevredenheid uitgespreek met die uitslag. Hy sê dit is belangrik dat die 277 miljoen burgers van die SAOG-streek die rol van streekstribunale en hul kritieke belangrikheid in die beskerming van die regte van alle burgers verstaan. “Wanneer individuele burgers, burgerlike samelewingsgroepe en aktiviste toegang tot die regbank in hul eie lande geweier word, moet daar vir hulle ʼn manier beskikbaar wees om hulle op ʼn hoër hof van arbitrasie te beroep om besluite te beveg wat ʼn impak op demokrasie en hul menseregte kan hê,” verduidelik hy.

Soortgelyke plasings